← Kultuur

· Deur Koerania-redaksie

Orania se eie volkslied word bekendgemaak

Die Orania Volksliedkompetisie is reeds in Januarie 2023 geloods en het sedertdien deur verskeie fases gegaan.

Gisela de Villiers wou graag tydens haar besoek aan Orania vir Cornelia Holm ontmoet. Dié twee kunstenaars, wat verskeie kreatiewe raakpunte deel, het heerlik gekuier.
Gisela de Villiers wou graag tydens haar besoek aan Orania vir Cornelia Holm ontmoet. Dié twee kunstenaars, wat verskeie kreatiewe raakpunte deel, het heerlik gekuier.

Dit is meer as twee jaar later, maar daar heers groot opgewondenheid, omdat die Orania Volkslied se wenners op Donderdag 27 Februarie 2025 om 09:00 tydens die herdenking van Majubadag aangekondig word. Die Orania Volksliedkompetisie is reeds in Januarie 2023 geloods en het sedertdien deur verskeie fases gegaan. Die eerste fase van die kompetisie was slegs vir die saamstel van die ideale lirieke (woorde), en 77 deelnemers het hul voorstelle ingedien. Hierdie inskrywings is deur 'n plaaslike paneel van tien persone beoordeel, sonder dat die name van deelnemers gesien kon word. 'n Kortlys van twintig lirieke is vir die volgende rondte gekies. Twee gesiene woordkunstenaars is as adviseurs ingeroep om vyf finaliste te identifiseer. In die volgende fase is inskrywings vir die melodieë vir hierdie vyf finaliste se lirieke ingewag en 7 inskrywings is ontvang. Na 'n aanvanklike plaaslike beoordeling en oorweging is twee moontlike wenners geïdentifiseer. Daardie inskrywings is met twee Afrikaanse musiekkenners gedeel wat reeds internasionale bekendheid vir hul vernuf verwerf het. Gisela de Villiers en Anton Esterhuyse het Orania aan die einde van 2024 besoek om besondere werksessies te hou waartydens hulle aan die lirieke en melodie geskaaf het om 'n musikale eindproduk te verseker wat aanklank by elkeen sal vind wat voortaan dié lied sal sing. Die wenlied word uiteindelik vanjaar op Majubadag aangekondig. 'n Funksie word vir dié dag beplan waar die gemeenskap om 09:00 daardie oggend aan die voet van die Oraniakoppie (langs die R369) sal vergader. Terwyl die Slag van Majuba herdenk word, skep dit ook die ideale geleentheid om 'n nuwe simbool van Orania se vryheidsstrewe bekend te stel – ons eie volkslied! Die gemeenskap word genooi om die geleentheid by te woon. Daar sal stoele, skaduwee en ander geriewe verskaf word.

Foto's: Dia van Staden Anton Esterhuyse en Gisela de Villiers is albei internasionaal bekend vir hul kennis van koorwerk, musiek en instrumentale vernuf. Hulle begaafdheid het bygedra tot die finale produk wat nou Orania se volkslied word.
Foto's: Dia van Staden Anton Esterhuyse en Gisela de Villiers is albei internasionaal bekend vir hul kennis van koorwerk, musiek en instrumentale vernuf. Hulle begaafdheid het bygedra tot die finale produk wat nou Orania se volkslied word.
Voorblad van Koerania - Februarie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Februarie 2025, bladsy 5

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar