← Gemeenskap

· Deur Arno Lambrechts

Orania Karnaval 1 - 3 Oktober

Lente is in die lug en soos wat die afgelope klompie jaar tradisie geword het, is die Orania Karnaval weer op hande!

Arno Lambrechts
Arno Lambrechts

Lente is in die lug en soos wat die afgelope klompie jaar tradisie geword het, is die Orania Karnaval weer op hande! Ons is baie opgewonde om hierdie karnaval, die sestiende een, aan u bekend te stel. Ons bestuurspan glo daarin om elke jaar te probeer verbeter op die vorige jaar se Karnaval en natuurlik raak dit elke jaar 'n al moeiliker doelwit om na te streef. Gevolglik het ons reeds kort na die afloop van Karnaval 2025 begin om planne te beraam om 2026 die beste Karnaval ooit te maak. Hier is 'n paar hoogtepunte: Donderdag 1 Oktober: NEON NAGDRAF Hierdie pretdraf is altyd 'n wenner en hierdie jaar gaan ons probeer om nog meer pret te bied in die vorm van 'n lekker studente sokkie na afloop van die nagdraf. Die nagdraf is heeltemal gratis so bring sommer die hele gesin vir hope pret. Vrydag 2 Oktober: 'n Ou gunsteling in die vorm van die volkspele is terug op die program tesame met ons groot vlotoptog, die immergroen gemeenskap toutrekkompetisie en dan sluit ons die dag af met 'n vertoning deur The Morning After Band wat vir ons 'n wye verskeidenheid saamsing-liedjies gaan opvoer. Onthou dat toegang op Vrydag HEELTEMAL GRATIS IS! Ons is ook opgewonde om aan te kondig dat ons die kinder speelpark hierdie jaar baie uitgebrei het met baie meer speelgoed en aktiwiteite. Die jongklomp kan selfs verfbal speel of hulle vermoëns toets met videospeletjies. Saterdag 3 Oktober: Meeste van u is seker reeds bewus daarvan dat ons hierdie jaar vir HEUWELS FANTASTIES genooi het om vir ons te kom kuier. Ek weet sommer nou al dat dit fantasties gaan wees! Dis egter nie naastenby al wat op Saterdag gebeur nie. Ons het soveel items dat dit op die einde moeilik geraak het om alles op die program ingepas te kry. Die karnavalprogram is hier beskikbaar: https://oraniakarnaval.co.za/program/ Kaartjies is aanlyn by https://oraniakarnaval.co.za/kaartjiekantoor/ of by die Orania Poskantoor beskikbaar.

Kaartjies is ook by die hekke beskikbaar maar aanlynkaartjies spaar natuurlik tyd by die hekke. Kostes is reeds vir die vierde jaar in 'n ry onveranderd naamlik Φ80 vir volwassenes en Φ40 vir laerskoolkinders. 2026 Beloof om ons beste jaar ooit te wees met 90 stalletjies wat reeds bespreek het! Daar gaan huisvlyt, snoesterye, kos en koeldrank, gereedskap, dienste, tuinbou en vele meer wees om van te kies en te keur. Ons wil 'n besonderse woord van dank uitspreek aan ons borge, wat hierdie jaar regtig hand in eie boesem gesteek het en ons verwagtinge ver oorskry het met hulle ruim ondersteuning. Onthou dat gratis ingang op Vrydag en onveranderde kostes op Saterdag tot gevolg het dat daar reuse druk op ons begroting is en selfs al het ons nie 'n winsmotief met die Karnaval nie, sou die somme nooit geklop het sonder hierdie staatmaker borge wat ons jaar na jaar ondersteun nie. Ons nooi elkeen uit om drie dae van pret en plesier saam met die gemeenskap van Orania te kom deel. Ons besef dis slegs met genade van Bo dat ons hierdie jaar ons pragdorp se 35ste bestaansjaar kan vier en al is daar soveel dinge in die wêreld daar buite wat mens bekommerd kan stem, kan ons steeds kies om in dankbaarheid te leef en ons samesyn as gemeenskap te geniet saam met vriende en familie van wyd en syd. Die Karnaval is om die draai. Kom, kom kuier lekker saam met ons!

Voorblad van Koerania - September 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2026, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar