← Kultuur

· Deur Koerania-redaksie

Orania gaan groot 2024

Orania CVO-skool het vir die derde jaar ‘n suksesvolle Orania Gaan Groot-fees met ses kunstenaars aangebied.

Musiek en feesliggies ná donker.
Musiek en feesliggies ná donker.

Orania CVO-skool het vir die derde jaar ‘n suksesvolle Orania Gaan Groot-fees met ses kunstenaars aangebied. Muller Brandt, Bernice West, Barto, Karlien van Jaarsveld, Franja du Plessis en Robbie Wessels het uiteindelik die meer as 2 000 mense in die gehoor vermaak. Willie Nel, voorsitter van die CVO se beheerliggaam vertel van die spanning wat met elke jaar se reëlings gepaard gaan. “Die week vooraf het ons 600 kaartjies verkoop en uiteindelik is daar heelwat meer as 2 000 mense deur die hek.” Hy spreek sy dankbaarheid uit teenoor ‘n span hardwerkende ouers, personeel en leerders wat elkeen hul deel gedoen het om seker te maak dat die dag ‘n sukses kon wees. “So ‘n getroue span maak dit maklik om groot projekte aan te pak,” vertel Willie. Koerania het heelwat besoekers ontmoet wat met waardering na die goeie organisasie, die indrukwekkende verhoog en sigbare veiligheid verwys het. Die plaaslik vervaardigde verhoog is in 2023 gebou om toekomstige uitgawes vir die huur van verhoë te voorkom. ‘n Rekord hoeveelheid borge het die begroting van byna R600 00-00 help delg. Daar is op kort kennisgewing besluit om die Springbokke teen die All Blacks se rugbywedstryd op ‘n grootskerm in die tent uit te saai. “Daardie nuus het kaartjieverkope ‘n hupstoot gegee,” vertel Willie. Die kosstalletjies is deur graadgroepe beman en elke stalletjie het een van die teenwoordige kunstenaars se liedjies uitgebeeld. Die stalletjies is mildelik ondersteun en die Afrikaners het weer gewys dat hulle kultuur lekker eet en lekker drink insluit. Alhoewel die rits kunstenaars nie noodwendig die top verkopers in die land verteenwoordig nie, het die gehoor steeds baie tyd op hulle voete voor die verhoog deurgebring om saam te sing en spring. ‘n Tent het as die bedieningsarea vir die verkoop van alkoholiese verversings gedien wat goeie ondersteuning geniet het. Die welkome lentedag se hitte het tot goeie verkope bygedra. Ettiene de Lange, hoof van die Orania Veiligheidsdiens, vertel dat daar slegs enkele klagtes van die publiek was oor ‘n individu wat oorbedien was en die publiek lastig geval het. Die situasie is egter vinnig ontlont en die individu is van die terrein verwyder. Die kunstenaars se positiewe terugvoer oor hoe hul Oraniërs se gasvryheid, vriendelikheid en liefde ervaar het, maak Orania steeds ‘n pragtige bestemming vir kunstenaars en ander besoekers wat Afrikaans en die Afrikanerkultuur respekteer. Soos wat dit met elke groot gebeurtenis gaan, word die planne vir 2025 reeds beraam en die reëlingskomitee is daarvan bewus dat gunsteling kunstenaars ten minste ‘n jaar vooraf bespreek moet word. Inwoners en besoekers sien uit na dié jaarlikse fondsinsamelingsgeleentheid van die CVO-skool Orania wanneer gewilde nasionale talent na die dorp genooi word.

Willie Nel, voorsitter van die CVO-skool se opvoedingsraad en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, hoofborg van die fees, het die toeskouers en ander borge vir hul deelname en teenwoordigheid bedank.
Willie Nel, voorsitter van die CVO-skool se opvoedingsraad en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, hoofborg van die fees, het die toeskouers en ander borge vir hul deelname en teenwoordigheid bedank.
Optrede tydens Orania Gaan Groot.
Optrede tydens Orania Gaan Groot.
Robbie Wessels in aksie
Robbie Wessels in aksie
Bernice West het nie dat haar swangerskap haar van pret weerhou nie.
Bernice West het nie dat haar swangerskap haar van pret weerhou nie.
Barto het heerlike energie uitgestraal en die gehoor aan die gang gehou.
Barto het heerlike energie uitgestraal en die gehoor aan die gang gehou.
Franja du Plessis het die gehoor se saamsing baie geniet.
Franja du Plessis het die gehoor se saamsing baie geniet.
Die publiek geniet die fees.
Die publiek geniet die fees.
Feesgangers saam by Orania Gaan Groot.
Feesgangers saam by Orania Gaan Groot.
Feesgangers by Orania Gaan Groot.
Feesgangers by Orania Gaan Groot.
Die feesverhoog en borge.
Die feesverhoog en borge.
Die gehoor by die fees.
Die gehoor by die fees.
’n Feesganger by Orania Gaan Groot.
’n Feesganger by Orania Gaan Groot.
Voorblad van Koerania - September 2024

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2024, bladsy 12

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar