← Nuus

· Deur Dia van Staden

Orania bou voort terwyl News24 breek

Orania se strategie is nog altyd om realiteite te skep.

Orania bou voort terwyl News24 breek – foto 1

Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, wat verantwoordelik is vir die verduidelik van die Orania-idee na buite, en werf van steun, is reeds jare bekend met dié tipiese ongegronde aanvalle van News24 en soortgelyke mediakanale, aangesien sulke nuusmedia graag relevant wil bly. Sedert die 2000 hofsaak en Julius Malema se besoek aan Orania in 2009 het Orania se leierskap uitdagende omstandighede in geleenthede omskep om Orania te bou en sterker te word. Orania se strategie is nog altyd om realiteite te skep. “Ek is geskok dat ‘n joernalis soos Pieter du Toit in ‘n X-plasing probeer om die Afrikaner te reduseer tot net “iemand wat slaggate reggemaak wil hê”. Hy poog om kultuurskap en die waarde daarvan absurd te verklaar,” verduidelik Joost. Hy noem verder: “Navorsing toon lank reeds dat lede Orania en die idee van selfbeskikking ondersteun. As mens realisties Orania se totale ekonomie, besighede ensomeer tel, is die begroting van die Solidariteit Beweging vir Orania ver van “Orania oorneem” af. Solidariteit het ‘n strategie om Ankerdorpe, waar baie Afrikaners woon, regoor die land te ondersteun, en veiligheidsinisiatiewe vir Suid-Afrika uit te rol. Die groei van Bo-Karoo Opleiding is ongelooflik versterkend tot Orania se ekonomie. Studiegelde, verblyf, kos, brandstof en vermaak vir meer as 200 studente versterk besighede en die ekonomie in Orania. Ons sien nou al uit na 800 studente, nuwe inwoners en toenemend meer toeriste wat saam aan Orania bou. Indien Orania tot iets werklik groot vir die Afrikaner wil groei, is 108 000 000 eintlik nog net ‘n begin. ‘n Enkele groot gebou soos die Werksgebou kan ‘n 55 miljoen rand projek wees! Dit is daarom so belangrik dat ons privaat belegging in Orasol, OSK, die groeifonds, eiendomsontwikkeling en soveel meer moet kry. Ons is baie dankbaar vir Orania ondersteuners wat tot ons projekte bydra.” Na News24 se aanval het die Orania Beweging ‘n beroep op ondersteuners gedoen, borg ‘n blokkie in die pad en stuur julle “Stadsbouer”-sertifikate vir News24 se redakteur, dat hulle kan sien hoe ons bou. Na die uitnodiging het meer as R110 000 se ekstra bydraes in twee dae ingekom. Die Orania Beweging het hulle reuse dank aan ondersteuners uitgespreek.

Gawie Snyman, uitvoerende hoof van die Orania Dorpsraad is ook deur News24 genader met ‘n string vrae waarop hy volledig en akkuraat reageer het. Hy noem: “Die feit dat Orania Aandeleblok oor 35 jaar heen skoon oudits gelewer het, is ’n sterk bewys van die korporatiewe en finansiële uitnemendheid waarmee die dorp bestuur word. Hierdie rekord skep vertroue onder huidige inwoners, voornemende inwoners en beleggers. Dit is juis hierdie gevestigde vertroue wat daartoe lei dat die Solidariteit Beweging ons vertrou om ook van hul fondse in eiendom en geboue in Orania te belê. As ’n selfbeskikkende gemeenskap is Orania ook nie huiwerig om hande te vat met ander instellings en rolspelers wat ’n bydrae tot Afrikaner-selfstandigheid lewer nie. Sulke samewerking beteken egter nie dat Orania sy selfbeskikking of onafhanklike besluitneming prysgee nie.” Die nadraai van die betrokke News24-berig (en die reaksie wat dit ontlok het) het eerder die vertroue wat Orania oor die afgelope 35 jaar opgebou het, verder onderstreep. “Hierdie vertroue kom nie slegs vanuit die breër Afrikanergemeenskap nie, maar word ook weerspieël in die ondersteuning wat Orania van mense uit die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap ontvang. Orania se rekord spreek uiteindelik vir homself: volgehoue verantwoordelike bestuur, finansiële dissipline, samewerking met ander en die vermoë om oor 35 jaar ’n selfbeskikkende Afrikanergemeenskap volhoubaar te ontwikkel.”

Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, noem aan Koerania dat News24 se pogings om Orania se beeld te skaad goeie vrugte afgewerp het. “Orania en die Solidariteit Beweging staan vir Afrikanerbelange, in samewerking met ander gemeenskappe. News24 se 3 artikels het nou daartoe bygedra dat die smeerveldtog in hul eie gesigte ontplof het, aangesien hul geen onthullings kon maak wat nie reeds aan die publiek en lede bekend was nie.” Volgens Frans is die weerstandsenergie weereens in bouenergie omskep!

Orania bou voort terwyl News24 breek – foto 2
Orania bou voort terwyl News24 breek – foto 3
Voorblad van Koerania - September 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2026, bladsy 3

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar