
Minderjarige kinders doen kwansuis Tuisskool, maar ouers is afwesig of werk en hul kinders loop in die strate rond. Wat sou u voorstel moet gedoen word om te verseker dat dié kinders steeds kwaliteit opvoeding ontvang?
Die toenemende verskynsel waar minderjarige kinders sogenaamd tuisskool ontvang, maar sonder voldoende toesig of gestruktureerde leer, is ’n ernstige bron van kommer. Tuisskool kan ’n waardevolle opvoedkundige alternatief wees, veral vir kinders wat nie in die hoofstroom skoolstelsel inpas nie, maar slegs indien dit verantwoordelik en volgens die nodige riglyne bestuur word. Dit bly die ouers se plig om te verseker dat alle wetlike vereistes nagekom word en dat hulle volle aanspreeklikheid neem vir hul kinders se opvoeding en welstand. Tuisskool vereis aktiewe betrokkenheid en kan nie effektief plaasvind waar kinders aan hul eie lot oorgelaat word nie. Om te verseker dat hierdie kinders steeds kwaliteit opvoeding ontvang, stel ek die volgende voor: 1. Kurrikulum: Tuisskoolleerders moet ’n duidelike, gestruktureerde kurrikulum volg. 2. Assessering deur ondersteuning: Wanneer ’n kind by ’n leerskool of ondersteuningsentrum ingeskryf is vir hulp, sal daar ook gereelde assessering plaasvind om te verseker dat die kind akademies vorder. 3. Ouerlike verantwoordbaarheid: Ouers of voogde moet aanspreeklik gehou word vir die daaglikse toesig en opvoeding van hul kinders. 4. Alternatiewe ondersteuning: Vir ouers wat werk en nie deurentyd beskikbaar is nie, kan leerskole of ondersteuningsentrums oorweeg word waar kinders vir ’n paar ure per dag gestruktureerde akademiese begeleiding ontvang. 5. Samewerking en vroeë intervensie: Kinders wat in die strate aangetref word en nie formele skool bywoon of tuisonderrig ontvang nie, moet doelbewus geïdentifiseer word. Deur gestruktureerde verwysingsprosesse en volgehoue opvolg kan hierdie kinders en hul gesinne betyds die nodige ondersteuning, beskerming en opvoedkundige leiding Ilze Smit ontvang. Kinders het die reg op ’n veilige omgewing en kwaliteit opvoeding.




