
Minderjarige kinders doen kwansuis Tuisskool, maar ouers is afwesig of werk en hul kinders loop in die strate rond. Wat sou u voorstel moet gedoen word om te verseker dat dié kinders steeds kwaliteit opvoeding ontvang?
In Orania sien ons al hoe meer kinders wat glo tuisskool ontvang, maar in werklikheid net in die strate rondlê. Dit is nie bloot n kwessie van luiheid of swak dissipline nie – dit is n gemeenskapskrisis wat ons self geskep het. My mening is dat daar duidelike redes hiervoor is maar dat ons dit ignoreer omdat ons `n ander prntjie van Orania wil uitdra. Finansiële druk is die eerste hekkie. Hoe kan ons verwag dat jong ouers hul kinders in skole hou as daar nie eens genoeg werksgeleenthede is om n basiese inkomste te verdien nie? `n Minimum loon van R6 000 tot R8 000 is vir baie vroue en jong meisies onbereikbaar. Sonder finansiële stabiliteit word onderrig die eerste ding wat sneuwel. Tog hou ons dorpsbestuur en ontwikkelaars vas aan kleinlike regulasies en persoonlike voorkeure, eerder as om n klimaat te skep wat nuwe besighede en industrieë lok. Dit is `n selfgeskepte armoede wat direk op die rug van ons kinders land. Ons skole jaag akademiese prestige na, maar ignoreer die meerderheid van ons jong mense. Die slim leerders sal hul pad vind – met of sonder `n skool. Dit is die ander 50-60 persent wat in die strate beland omdat hulle geen vaardighede in ons skole geleer word nie. Ons hou aan om te doen asof akademiese prestasie die enigste maatstaf van sukses is, terwyl die gemeenskap se werklike behoefte praktiese vaardighede is. Die harde waarheid is dat baie ouers eenvoudig nie hul kinders se opvoeding ernstig opneem nie. Jong mense verlaat die skool sonder dat hulle behoorlik kan lees, skryf of tel. Tog verwag hulle – en hul ouers – dat daar werk vir hulle sal wees. Dit is n illusie wat ons as gemeenskap bly voed, terwyl die werklikheid is dat niemand sonder basiese geletterdheid en berekeningsvermoën toekoms het nie. Teen die tyd wat baie van ons kinders die skool verlaat, is hulle moedeloos en lewensloos. Hulle het geen loopbaanrigting nie, geen vaardighede nie, en geen hoop nie. Baie kry nie eens ID-dokumente of lisensies nie, en trou bloot uit oorlewing. Dit is `n kringloop van stagnasie wat ons gemeenskap vasvang – en ons kyk weg. Ons kan nie langer doen asof hierdie probleem self sal oplos nie. Hoe kan ons glo dat ons kinders suksesvol gaan wees as hulle nie eens hul eerste doel – basiese skoolopleiding
– kan voltooi nie? Die waarheid is eenvoudig: sonder onderrig, sonder vaardighede, sonder rigting is daar geen toekoms nie. As ons nie nou optree nie, gaan ons kinders se lewens bly verdwyn in die strate – en die skuld sal ons s’n wees. Ons strewe moet wees na uitnemendheid, en dit begin by ons kinders.




