← Gemeenskap

· Deur Alida Verwoerd

Opvoeding in die kollig – Alida Verwoerd – April 2026

Ouers dra die grootste verantwoordelikheid vir die opvoeding van hulle kinders.

Alida Verwoerd
Alida Verwoerd

Minderjarige kinders doen kwansuis Tuisskool, maar ouers is afwesig of werk en hul kinders loop in die strate rond. Wat sou u voorstel moet gedoen word om te verseker dat dié kinders steeds kwaliteit opvoeding ontvang?

Ouers dra die grootste verantwoordelikheid vir die opvoeding van hulle kinders. Opvoeding is nie bloot die oordrag van feite nie,maar die vorming van n mens -- n mens wat kan onderskei tussen reg en verkeerd, wat verantwoordelikheid kan dra en met wysheid leef. Wanneer ouers nie hulle rol ten volle vervul nie, kan die gemeenskap nie terugstaan nie. die kind bly kwesbaar -- en waar die fondament ontbreek, moet ander help. Dit is egter belangrik om te weet dat die gemeenskap nie die ouer vervang nie, maar wel ondersteun en beskerm en lei. Die gemeenskap/ ons moet seker maak dat ons kinders veilig is-- fisies, emosioneel en moreel. Waar daar verwaarlosing of skade is, moet ingegryp word deur verantwoordelike strukture daar te stel.. ‘n Gesonde gemeenskap help kinders om die basiese waardes te absorbeer; basiese waardes soos respek, eerlikheid en verantwoordelikheid. Strukture wat kan help is natuurlik skole, kerke, sportklubs en jeuggroepe. n Gesonde gemeenskap stel duidelike grense: dit laat nie toe dat onverskilligheid of destruktiewe gedrag ongesiens verbygaan nie. Waar ouers faal, word die die gemeenskap n vangnet-- nie om oor te neem nie, maar om op te hef, te beskerm en te lei. Praktiese, doelgerigte stappe wat ons gemeenskap kan neem om verwaarloosde kinders te help. (Hierdie stappe moet konsekwent en georganiseerd wees om kinders te beskerm en op te bou) 1. Skep ‘n aanmeldstelsel waar mense verwaarlosing veilig kan aanmeld. 2. Maatskaplike dienste moet deel van hierdie stelsel wees.

3. Organiseer ‘n betroubare netwerk van volwassenes om kinders te ondersteun. (bv afgetrede onderwysers, kerkleiers, beraders en ander kundiges met harte wat wil help) 4. Fokus op langtermynverhoudings, nie net eenmalige hulp nie. 5. Skole kan saamwerk om jaarliks kursusse of herfs-en lenteskole aan te bied en/of naskoolse programme vir huiswerk, lees- en rekenvaardighede. Gebruik vrywilligers om individuele aandag te gee. 6. Betrek kinders by sport- kultuur en gemeenskaplike aktiwireite. 7. Bied ouerskap-opleiding aan bbv. oor spesifieke onderwerpe soos aanleer van lees- en reken vaardighede. Om dit aan te pak behoort daar n gemeenskapsforum geskep te word. Werk en inligting kan uitgedeel word en rekordhou van kinders wat hulp nodig het ‘n Gemeenskap verander nie kinders se lewens met groot projekte nie, maar met getroue mense wat opdaag--elke dag. Daar rus ‘n verantwoordelikheid op ons, ‘n roeping : nie om ouers te vervang nie, maar om nie weg te kyk nie. Ons sê: Hier in Orania laat ons nie kinders val nie. Ons is ‘n gemeenskap wat nie net praat nie, maar doen; wat nie net hoop nie, maar bou.

Voorblad van Koerania - April 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – April 2026, bladsy 11

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar