← Kultuur

· Deur Dirk Klynsmith

Op die pad saam met Paul Kruger

Op 23 September 2025 het ons toergeselskap vroegoggend uit Orania vertrek, vol opgewondenheid en verwagting.

Die toneelgeselskap. Foto: Verskaf.
Die toneelgeselskap. Foto: Verskaf.

Op 23 September 2025 het ons toergeselskap vroegoggend uit Orania vertrek, vol opgewondenheid en verwagting. By die bussie was ons verras toe ons kospakkies ontvang wat deur verskeie plaaslike instellings voorberei het en beskikbaar gestel het. Aanvanklik was die atmosfeer bedees, met sagte geselsies tussen bure en kennisse. Maar soos die son oor die vlaktes begin styg, het die gees lig geraak. Grappe, gelag en geselskap het vinnig die oggendure begin vul. Dit was 'n mooi begin vir wat sou uitloop op 'n onvergeetlike ervaring. Langs die pad noord Ons eerste stop was in Bloemfontein vir koffie net na sonsopkoms. Daarvandaan het ons koers gekry Pretoria toe, waar ons vir Daniel ontmoet het, 'n vriendelike man wat nuuskierig kom kyk het na ons bussie met die

“Oom Paul trek na Orania” advertensie daarop. Daniel het vertel dat hy jare gelede by Waterwese gewerk het, toe Orania nog onder dié departement geval het. Hy het stories gedeel oor sy dae aan die dam en die watervore, en met trots vertel hoe hy die dorp onthou. Dit was 'n kosbare gesprek- eerlik, respekvol en deurdrenk van herinnering aan hoe dinge eens was. Namate die pad langer word, het die ogies in die bus begin toeval. Ek het sommer besluit om die BKO-bussie onoffisieel te herdoop na die “Rusbus” en het vir die lekkerte foto's geneem van my slapende mede-reisigers. Optredes, ontmoetings en ontdekking Die dae het daarna soos die wind verby gesnel. Optredes het mekaar vinnig opgevolg, en soms het ons nie eens geweet watter dag dit is nie! Tog is ons oral vriendelik ontvang. Elke dorp het iets eie gehad, en oral het ons meer geleer oor ons geskiedenis en erfenis. Dit was merkwaardig om te sien hoe groot die belangstelling in Orania is, veral onder jongmense. Hulle wou weet, vrae vra, verstaan, en dis vir my 'n riem onder die hart om te sien dat daar steeds 'n honger is na ons geskiedenis, iets wat so dikwels verlore gaan. By verskeie kerke het ons stilgestaan, en by Oom Paul Kruger se kerk het die orrelis vir ons Psalm 100 gespeel. Spontaan het almal saamgesing- 'n oomblik wat iets heiligs in die lug gehad het. Daarna het dit amper 'n tradisie geword: by elke nuwe kerk het ons weer gesing. In Potchefstroom, toe daar niemand was om die orrel te speel nie, het een van ons toerlede eenvoudig agter die klawers gaan sit en die groep verras met sy spel. 'n Groep word 'n gesin Met elke dag op die pad het die groep nader aan mekaar gegroei. Die aanvanklike stil geselsies het verander in oop lag, grappies en gespot oor ons toneelkarakters en aanhalings. Party het selfs 'n eie humor-taal ontwikkel, soos toe ons 'n trop kameelperde sien en iemand uitroep: “Opsaal, Burgers!” waarna almal uitbars van die lag. Terug by die huis Bykans middernag het ons weer Orania binnegery - moeg, maar met harte vol dankbaarheid. Die toer het ons nie net nuwe kennis oor ons geskiedenis en geloof gegee nie, maar ook 'n dieper waardering vir mekaar. Een gedagte het by ons almal bly vassteek: dat ons volk deur die eeue 'n noue pad saam met die Here geloop het. Dis daardie voorbeeld, uit die verlede geput, wat ons toekoms kan dra en wat ons met trots aan ons kinders moet oorhandig.

Voorblad van Koerania - Oktober 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Oktober 2025, bladsy 7

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar