← Gemeenskap

· Deur Gawie Snyman

Nuwejaarsboodskap 2026 – Gawie Snyman

Geagte mede-Oraniërs, Met dankbare harte tree ons voor 2026 aan.

Gawie Snyman, Dorpsbestuurder
Gawie Snyman, Dorpsbestuurder

Geagte mede-Oraniërs, Met dankbare harte tree ons voor 2026 aan. Ons doen dit bewus van ’n wêreld en ’n ekonomiese klimaat wat onseker bly, maar ook met vaste hoop, omdat ons weet dat Orania nie bloot deur omstandighede gedra word nie, maar deur die sorgende hand van ons hemelse Vader. In elke seisoen bly Hy getrou, en dit is in hierdie vertroue dat ons vorentoe kyk. Die jaar wat voorlê vra nugterheid, verantwoordelikheid en samewerking. Terselfdertyd bring dit ook geleenthede. Verskeie projekte word vir 2026 beplan wat sal fokus op instandhouding, verbetering en die voorbereiding vir toekomstige groei. Ons infrastruktuurspanne sal veral aandag gee aan die klaar teer van die servituutpad, die aanlê van ‘n kraglyn na die oksidasiedamme, konstruksie van slikbeddings by die oksidasiedamme en opgradering van die hoof-rioolpompstasie, terwyl Gemeenskapsdienste ons openbare ruimtes deurlopend sal opknap. By OVD wil ons graag ons kommersiële veiligheidsdienste aan omliggende boere met behulp van AI-tegnologie na ‘n volgende vlak neem en sal ons daarom die beheerkamerbediener vanjaar opgradeer. ’n Verdere belangrike verwikkeling by Orania Regspleging (onafhanklik gereguleer deur die Orania Regsraad) is die beskikbaarstelling van ‘n besoldigde voorsittern spesifieke gevalle. Hierdie stap versterk die professionaliteit, billikheid en gn tot seën van geloofwaardigheid van ons egsprosesse en bevestig Orania se verbintenis tot orde, natuurlike geregtigheid en verantwoordelike selfbestuur. Die doel is eenvoudig: ’n netjiese en funksionele dorp wat ook ordelik en aangenaam is om in te leef. Ons is dankbaar dat ons verlaagde oordragskoste reeds in 2025 kon deurgee. Hierdie stap het reeds begin om eiendomstransaksies meer toeganklik te maak, veral vir jong gesinne en nuwe toetreders tot Orania se eiendomsmark. Die vrugte daarvan begin reeds sigbaar word, en dit bevestig dat doelgerigte, verantwoordelike besluite ’n werklike verskil kan maak. In hierdie lig kondig ons met dankbaarheid aan dat 2026 ‘n Jubeljaar sal wees, met aansienlik verlaagde oordragskoste (plafon van R15,000 per oordrag) spesifiek vir die herstrukturering van eiendomsbesit binne maatskappygroepe en families, veral met die oog op boedel- en langtermynbeplanning. Dit is ’n doelbewuste poging om ekonomiese aktiwiteite aan te moedig sonder en om die gemeenskap kostes te spaar. Terwyl ons vorentoe kyk, doen ons dit met dankbaarheid teenoor die Here, wat ons tot hier gebring het. 2026 roep ons op om saam te bou, mekaar te dien en met ywer en wysheid te werk. Ek glo 2026 sal ’n jaar wees van nederige groei, sterker gemeenskap en volgehoue hoop - alles tot eer van Jesus Christus ons Koning en Here en tot seën van Orania en sy mense.

Voorblad van Koerania - Januarie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Januarie 2026, bladsy 5

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar