
As deel van die homo sapiens moet ons erken dat dit nie toevallig is dat ek en jy die voorreg beleef om 2025 te kon sien afskop nie! Ons kon tog nie iets doen om dit te verdien nie? Dit is alles blote genade! Die 2024 doelwitte is nie almal bereik nie. Ons gaan in 2025 meer doelgerig, meer realisties en meer objektief na drome en ideale kyk! Ons gaan onsself nie aan ander se strewes meet nie. Ons gaan weer lief word vir die refleksie in die spieël, want ons is na God se beeld geskape en uniek! Rerig? Laat ons nou maar eerlik met mekaar wees. Sommige persone stel geen doelwitte nie en, volgens my, is daar dan geen rede tot verbetering of selfkritiek nie. Ander raak so weggevoer met onrealistiese ideale dat daar byna geen ruimte gelaat word om foute te maak nie. Dis dopamien en seretonien wat met kortisol tennis speel. Ons ingewande bewe van al die adrenalien en die volgende oomblik verlam dit jou doen en late. Ons neurologie begeer balans. Die brein wil voortdurend nuwe breinpaadjies bou, maar ons beperk onsself tot gemaksones waar waag nie wen is nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is feilbaar! Ons tree op die baan aan, sak laag in die wegspringblokke, haal diep asem en fokus op die wenstreep terwyl sweetstraaltjies by ons rue afrol. Ek moet net nie struikel nie. Ek moet net nie dat my voet aan 'n hekkie haak nie. Ek moet net nie val nie… Positiewe en motiverende selfdialoog is 'n wonderlike teenmiddel vir twyfel en negatiewe gedagtes. Ons Godgegewe gawes mag nie onder die maatemmer geplaas word nie. Roep dit weer op. Delf diep. Stof dit af en misbruik dit tot voordeel van jouself, 'n gekose gemeenskap en jou omgewing! Deur te gee, ontvang jy! Wat beoog JY om met die volgende 355+ dae te doen wat jy onverdiend ontvang? Mag jou koffie stomend wees en jy 'n soetigheid daarin doop, sommer vir die lekkerte.




