← Nuus

· Deur Dia van Staden

’n Gemeenskap treur

Marlette en Danie van der Westhuizen is in 2012 getroud, voordat hulle in 2020 van mekaar vervreem geraak het.

Marlette van der Westhuizen
Marlette van der Westhuizen

Marlette en Danie van der Westhuizen is in 2012 getroud, voordat hulle in 2020 van mekaar vervreem geraak het. Daar is 'n dogter uit die huwelik gebore. Sy het onlangs, op 7 April 2025, 12 jaar oud geword. Die tragedie van die moord en selfdood van haar ouers is egter deur dié jong meisie aanskou. Volgens 'n woordvoerder van die Eureka Nood-en Reddingsdienste het die nadoodse ondersoek getoon dat vyf skote op Marlette afgevuur is, waarna Danie homself met een skoot gedood het. 'n Vriendin, wat verkies om anoniem te bly, het met Koerania oor haar en Marlett se vriendskap en die bespiegelinge rondom die gebeure gesels. Daar is op Vrydag 28 Maart vir die dogter 'n verjaardagpartytjie by die gemeenskapswembad gehou. Danie was nie teenwoordig nie. Marlette het video's en foto's geneem van die feesvieringe, want herinneringe was vir haar kosbaar. Die dogter se ongeveer 20 maats het in die swembad baljaar en daar is aan allerlei lekkernye gesmul. “Niemand sou op daardie dag kon raai dat so 'n tragedie dae later sou geskied nie!” sê 'n hartseer vriendin. “Ons was besties! Ons het in 2019 vriende geword, maar die afgelope 2 jaar het ons gereeld saam gekuier. Laatnag het die Tiktokboodskappe heen en weer gevlieg en ons kon lekker lag oor ander mense se gekkigheid, maar spesiale vriendskapsboodskappe deel. Saam kon ons konserte, skool- en sportbyeenkomste bywoon en ons kinders daarheen neem. Ons het 'n unieke vriendskap gehad en niks sal dit kan vervang nie, maar ek sal nuwe bande moet bou. Dis nie lekker sonder haar nie, maar ek het groot waardering vir vriende wat tans uitreik.”

Lede van die gemeenskap is dit eens dat Marlette altyd vriendelik was, en sy het nie haar emosies op haar mou gedra nie. Sy het baie omgegee vir ander en het haarself maklik tweede gestel. Sy was baie liefdevol en 'n uitstekende ma. Elke Oraniër sal Marlette onthou as die vriendelike en knap ontvangsdame by die Orania Dorpsraad. Danie was sedert 2022 'n getroue en geliefde werknemer van Hoeksteen in Orania. “Danie was regtig vir ons baie spesiaal hier in die OOM-finansies kantoor, en ons mis hom vreeslik,” vertel die personeel. Hy was van 1 Januarie 2020 af by verskillende instellings binne die OOM-groep (Orania Ontwikkelingsmaatskappy) betrokke. Die gesamentlike gedenkdiens is deur dr Nico Goosen van Hopetown waargeneem. 'n Verteenwoordiger van 'n motorfietsklub waarvan Danie deel was, Jakes Wiese, het 'n huldeblyk aan sy maat van 20 jaar gelewer. Christa Bredenhann, werknemer van OOM, het die bedankings hanteer. Sy het verskeie individue in die gemeenskap bedank, maar veral verwys na die maatskaplike werker, Janca Pieterse wat dadelik maatskaplike ondersteuning aan die dogter en ander naasbestaandes verleen het. 'n Gemeenskap rou, maar dié gebeure het almal herinner om dieper te kyk, beter te luister en lief te hê!

Die woonstel waar die tragedie plaasgevind het
Die woonstel waar die tragedie plaasgevind het
Danie van der Westhuizen
Danie van der Westhuizen
Voorblad van Koerania - April 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – April 2025, bladsy 1

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar