
Die feit dat Christo en Karin Müller kort na 'n Comrades marathon in 2014 getroud is, sal vir niemand wat hulle ken verrassende nuus wees nie. Wanneer hulle eers die drafstories begin uitryg word daar gelag, geskerts en veral onthou. “Die invloed van hardloop op 'n verhouding, waar albei verstaan waarom dit gedoen word, is onontbeerlik,” vertel Karin en Christo met erns. Dit is albei se tweede huwelik en die belangrikheid van 'n maat wat die kilometers saam met jou aftel was van die begin af vir hulle 'n noodsaaklikheid. “Die avonture wat ons al saam beleef het is net fantasties,” sê Karin, wat nooit 'n drawwer was nie. Haar sportkeuse was fietsry, maar haar broer het haar aangemoedig om te draf. “As dit nie daarvoor was nie het ek en Christo mekaar seker nooit ontmoet nie.” Hulle het albei in Graaff Reinet gewoon, gewerk en gehardloop. Karin het dié hardlopery stadig aangepak. Nadat sy en Christo begin saam hardloop het moes sy vinnig haar gewoonte van 40km per week opstoot na 80km en meer per week. Die hoër kilometers per week het gou goeie resultate afgewerp. “Ons het die Comrades in 2017 saam gehardloop en saam klaargemaak. Dit was baie spesiaal om so 'n wedren saam te voltooi,” glimlag hulle. Karin herinner Christo gou aan die 2018 wedloop waar sy hom gewen het. “Dit was so lekker om hom te wen, al het hy met 'n besering gehardloop.” “Ek kon nie 'n jaar uitsit nie, en besluit toe om wel met die seer senuwee in my linkerbeen te hardloop,” vertel Christo. Die Twee Oseane marathon ontvang Christo vir die 24ste keer vanjaar. “Hy het een jaar die Twee Oseane ten bate van die Dierebeskermingsvereniging gehardloop, met 'n hondepakkie aan! Ek kon dit nie glo toe ek sien dat hy selfs daardie wedren voor my klaargemaak het nie,” lag Karin. Christo pak die 56km aan en Karin sal die 21km draf. “As ons met vakansie gaan, soos na die Twee Oseane in Kaapstad, dan google ons vir plase in die omgewing waar jy mag hardloop, interessante paadjies volg en die avontuur met die natuur kan inneem.” “Ek sien uit na Comrades nommer 22 vanjaar en Karin wil haar nommer 6 voltooi,” sê Christo. Karin is nie seker of haar ernstige voetbesering al so herstel het dat sy vir 'n marathon kanssien nie, maar sy het wel begin oefen daarvoor. Karin moet nog kwalifiseer en daar is tyd tot 5 Mei daarvoor. Hulle besluit sommer gou om aan 'n wedloop in die omgewing te gaan deelneem, omdat hulle dit saam geniet. “Ons bel mekaar tydens wedlope en motiveer mekaar ook so. Ons beleef die sportmanskap, die adrenalien, die roete en voorvalle langs die pad saam. Ons kan vir ure na 'n marathon ontlaai deur die belewenisse te bespreek,” vertel hulle met blink oë. “Dit is so belangrik om in 'n huwelik iets te vind wat julle saam geniet. 'n Atleet spandeer soveel tyd op die pad as jy vir 'n groot wedren voorberei. Dit is moeilk as een dit doen en die ander een sit by die huis. Met ons twee is albei op die pad en kan ons dit saam beleef.” Christo erken dat hy baie kompeterend is en vir 'n beter tyd hardloop. Karin is die een wat meer sosiaal deelneem en haar omgewing en die mense inneem. Hulle draf albei om die wedren te voltooi en beslis nie laaste te eindig nie. Karin wil graag 3-dag staptogte doen, maar Christo is nog nie heeltemal daarvoor te vinde nie. Hy wil hardloop. “Ek dink nie aan ophou nie, want dit maak my depressief. Ek sal graag Comrades op 80 wil doen. Mens moet na jouself kyk sodat jy hopelik op 80 nog kan hardloop,” eindig Christo die vertel van vele staaltjies. Vandag is dié pragtige egpaar die eienaars van Hemel op Aarde selfsorg en woeker met 'n gewilde koffiekaravaan as hulle nie hol nie.




