← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Morné en Heaven van der Merwe

Vir Morné en sy vrou, Heaven, was hul besoek aan Orania van 12 tot 19 Junie veel meer as net ’n gewone vakansie.

Morné en Heaven van der Merwe met hul gidshonde, Enzo en Skyler Foto: Verskaf.
Morné en Heaven van der Merwe met hul gidshonde, Enzo en Skyler Foto: Verskaf.

Vir Morné en sy vrou, Heaven, was hul besoek aan Orania van 12 tot 19 Junie veel meer as net ’n gewone vakansie. Behalwe om by ’n vriendin te kuier, het die egpaar met ’n baie spesifieke doel gekom: om die toeganklikheid van die dorp se strate en infrastruktuur eerstehands te toets – veral met die oog op die gebruik van hul getroue gidshonde. Hulle wou ook die moontlikheid van plaaslike werksgeleenthede ondersoek. Die resultaat van hul ondersoek? ’n Ervaring wat hul stoutste verwagtinge oortref het en hul harte permanent gesteel het. Morné vertel dat hulle die dorp se openbare ruimtes, winkels en eetplekke deeglik getoets het. Waar baie dele van Suid-Afrika dikwels groot fisiese en sosiale uitdagings vir mense met gestremdhede bied, het Orania met vlieënde vaandels geslaag. "Wat bedagsaamheid aanbetref, staan Orania ver uit bo die res van die land. Ons het 99 persent bedagsaamheid ervaar," sê Morné dankbaar. Inwoners was hoegenaamd nie skrikkerig om nader te staan en vriendelike geselsies aan te knoop nie. Hoewel daar twee klein voorvalle was wat aanvanklik vir ’n bietjie ontsteltenis gesorg het, is dit vinnig en in ’n goeie gees uitgesorteer. ‘n Student wat vir hulle getoet het toe hul in die straat gestap het, is nie negatief ervaar nie. Die egpaar se weeklange kuier was propvol unieke ervarings, maar ’n paar spesifieke oomblikke sal hulle altyd bybly: Die Sonskip: Om in ’n huis met so ’n unieke, ekologiese boustyl te kon tuisgaan, was ’n absolute openbaring. Duquesne-konsert: Die ryk kultuurlewe en die samesyn tydens die konsert het die besoek perfek afgerond. Veiligheid: Die tasbare gevoel van vrede en veiligheid het ’n blywende indruk gelaat. Sedert hul terugkeer is daar skaars ’n dag wat verbygaan dat die egpaar nie na Orania verlang nie. Dié 2 gegradueerdes woon tans in Worcester en is nou vasbeslote om vir verblyfreg aansoek te doen. Morné en Heaven wil egter nie net in Orania kom woon nie, maar wil hul unieke vaardighede aktief inspan om die gemeenskap te verryk. Hulle is albei rekenaarvaardig. Morné en Heaven werk by Innovation for the blind. Morné werk by ‘n radiostasie as klankredigeerder en is ‘n opgeleide barista. Heaven is ‘n masseus. Een van hul groot drome is om te help met die oprigting van ’n plaaslike sentrum vir mense met gestremdhede. Hulle is albei blind gebore en kan onderskei tussen lig en donker. Morné beklemtoon egter dat daar fyn onderskeid getref moet word tussen individue wat ten volle in die dorp se ekonomie en alledaagse lewe geïntegreer kan word, en diegene wat eerder baat sal vind by beskutte arbeid. Die groot skuif sal deeglike finansiële beplanning verg, maar die droom staan vas: Orania is die plek waar hulle hul toekoms sien.

Voorblad van Koerania - Julie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Julie 2026, bladsy 4

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar