
Op Saterdag 14 Desember 2024 het 'n klein groepie Oraniërs aan die oewer van die Oranjerivier bymekaargekom om die dorp met 'n modeparade te vermaak. Beide mans en vroue het die loopplank, of in dié geval, die grasperk, sommer kaalvoet betree om son, styl en safari uit te beeld. 'n Tema wat goed by Oraniërs se algemene styl en die hittige somers wat ons hier beleef pas. Orania Uitrusters en Kleinreus se Nefie het die mans in kortbroeke geklee sodat enige besoekers kon sien met watse bene hierdie manne van ons spog, terwyl Cia-Mari Boetiek, Kleinreus se Niggie en Jaroelie (voorheen bekend as Kroon tot Toon) gesorg het dat die dames pragtig in vloeiende somersrokkies en hulle eie wergawes van “safaripakkies” kon verskyn. Die gehoor is selfs verras met 'n klassieke trourok wat die rondte gedoen het. Soos meeste van ons goed weet is Desembers in Orania nie vir leeglê bedoel nie. Buiten die talle mense wat nog hard aan die werk is, begin die dorp ook gons met toeriste sowel as 'n besige vakansieprogram. Dus was hierdie jaar se modeparade 'n intieme geleentheid waar jy sommer met jou piekniekmandjie onder 'n skaduboom kon gaan sit. Die informele manier waarop die modeparade aangebied was het 'n gesellige atmosfeer geskep waar ons gereeld kon lag vir van die modelle se manewales. Nog iets om uit te lig is dat gewone lede van die gemeenskap gevra is om modelle vir die geleentheid te wees. Dit was die oom wat ek Maandag, as ek 'n pakkie skroewe nodig het, weer by die hardeware gaan sien of die meisie wat die vleis vir vanaand se braai vir my oplui. Dit het die gevoel van gemeenskap waarvoor die dorp bekend is uitgelig en dit is juis waarom dit vir my groot pret was om by te woon. Dit was 'n geleentheid om saam met vriende en familie na 'n lang jaar onder 'n groot boom te ontspan, om te sien hoe mense wie jy nie ken nie, iets doen wat heeltemal buite hulle gemaksone is, en ook om daardie mense dan bietjie beter te leer ken.








