
Die Orania Karnaval word jaarliks aangebied. Vir ‘n aktiewe gemeenskap is voortdurende verbetering ‘n gegewe. Wat sou jy as toevoeging tot die sukses van die karnaval wou voorstel?
Anrich J van Vueren
Dankie aan die Dorpsraad en rolspelers vir die harde werk wat in die Karnaval ingaan. Ek dink daar is baie potensiaal om dit nog beter te maak: meer aktiwiteite waaraan mense self kan deelneem, meer geleenthede vir jong entrepreneurs om hul idees te bemark, en innoverende aanbiedings wat nuwe besoekers jaarliks kan trek. Vir my is die Karnaval meer as net 'n fees. Dit is 'n kans om aktief te bou aan die gemeenskap wat ons vir Orania wil hê. As jong entrepreneur glo ek die geleenthede wat ons vandag skep, bepaal wat ons môre gaan wees. "Die toekoms hang af van wat ons vandag doen." – Mahatma Gandhi
Theunie Botha
Soos altyd was Orania-karnaval ’n gesellige samesyn wat gemeenskapsgees op ‘n besondere wyse laat blom het. Om hierdie geliefde feesgeleentheid na nuwe hoogtes te voer, kan daar oorweeg word om die karnavalprogram reeds ’n geruime tyd voor die fees te bemark. Kort video’s van kunstenaars, stalletjies en die verskeidenheid gemeenskapskompetisies kan op sosiale media gedeel word om belangstelling te prikkel en besoekers se opgewondenheid aan te wakker. Tydens die karnaval kan besoekers aangemoedig word om foto’s en video’s met ’n unieke hutsmerk op sosiale media te deel, sodat die energie en besondere atmosfeer van die fees ook ander mense inspireer om dit volgende keer self te beleef. Met doelgerigte bemarking kan Orania-karnaval jaar ná jaar groei en nóg meer mense die geleentheid bied om deel te word van hierdie besondere viering van gemeenskap, talent en samehorigheid.
Maria Pereira
My voorstel is dat ons karnaval verbeter kan word deur meer opwindende aktiwiteite en vermaak vir besoekers van alle ouderdomme. Ons kan gerus die inspirasie neem uit karnavalle in die buiteland, waar verskeidenheid speletjies en pretaktiwiteite mense lok. Tradisionele karnavalspeletjies, soos ringgooi, blikkies omgooi, visvang en teikengooi, kan groot aantrekkingskrag hê. Deelnemers kan pryse wen om dit meer opwindend te maak. Daarbenewens kan ons dit oorweeg om ‘n mallemeule en ander pretparkritte by die karnival in te sluit. Hierdie sal nie net die karnaval se aantrekkingskrag verhoog nie, maar ook meer gesinne en besoekers aanmoedig om dit by te woon. Met fantastiese beplanning, voldoende veiligheidsmaatreëls en verskeidenheid beskostigbare aktiwiteite, kan ons ‘n prettige ervaring skep. So kan ons karnaval jaarliks groei en ‘n groot hoogtepunt word.
Ilze Smit
Ek dink daar is altyd ruimte om die Orania Karnaval verder uit te bou en jaarliks iets nuuts by te voeg om besoekers te lok. Dit sal wonderlik wees indien daar gepoog kan word om nog meer uitstallers te betrek, met ’n groter verskeidenheid produkte en handgemaakte items. Meer verskeidenheid by die kosstalletjies kan ook help om besoekers ’n ryker ervaring te bied. Die swepe wat tydens die vorige karnaval gemaak en verkoop is, was vir my ’n besondere hoogtepunt en ’n goeie voorbeeld van hoe unieke vakmanskap en interessante produkte tot die karakter van die geleentheid kan bydra. Ek glo ook dat ’n besondere trekpleister, soos die motorfietsvertonings van verlede jaar, ’n groot aantrekkingskrag kan wees. Sulke unieke aanbiedinge skep opwinding en gee mense nog ’n rede om die karnaval te besoek. Met nuwe idees, ’n goeie verskeidenheid en interessante hoogtepunte kan die Orania Karnaval elke jaar voortbou op sy sukses en ’n ervaring bied waarna mense uitsien. Baie dankie aan die organiseerders en almal wat agter die skerms hard werk om die Orania Karnaval moontlik te maak. Dit verg baie tyd, moeite en toewyding om so ’n geleentheid aan te bied, en julle bydrae tot ons gemeenskap word opreg waardeer. Mag die karnaval jaar na jaar groei en nog groter sukses behaal!
Yoraldé Grotius
Stalletjies: Daar moet meer stofopgaardertjies en kos by die karnaval wees. Iets waaraan ek my geld wil spandeer. Ek sal bv. graag stalletjies met skilderye of ander kunswerke, juwele, klere of unieke handgemaakte items wil sien. Vanjaar se karnaval het te veel gereedskap en soortgelyke stalletjies gehad en te min lekker goed om voor te kyk. Kos: Daar moet nie net genoeg kosstalletjies wees nie, maar ook 'n groot genoeg verskeidenheid. Mense wat die hele dag op die terrein spandeer en dan die aandvertoning bywoon verwag dat daar teen 18:00 nog iets te eet sal wees. Vermaak: As ek aan "Karnaval" dink, dink ek aan die karnaval in Brasilië - helder kleure, lekker musiek en gelukkige mense. Ons as Oraniers is dalk bietjie konserwatief en min om dit heeltemal op daardie vlak te doen maar, ek dink ons kan definitief bietjie inspirasie daar kry. Dit voel amper of ons die karnaval die afgelope 4 jaar doen nie omdat ons wil nie maar, eerder omdat ons moet. Daar is mos elke jaar karnaval. Laastens dink ek die plaaslike kunstenaars en besighede moet meer betrek word. Ek verstaan met deesdae se brandstofpryse wil uitstallers nie noodwendig meer na 'n klein dorpie in die middel van die land ry nie. Hier is talle talentvolle mense in die dorp, wat aangemoedig kan word om deel te neem. Dink nuwe "speletjies" uit en kry nuwe vermaak i.p.v. om net elke jaar dieselfde resep te herhaal - hy raak vir my bietjie afgestomp. Stop selfs die karnaval vir 'n jaar as dit moet. Ek onthou nog hoe lekker my eerste karnaval was. Dit sal baie hartseer wees om net eendag nie meer lus te wees om karnaval by te woon nie.








