
Waarom is dit voordelig om ‘n Gesondheidsentrum in Orania te hê waar mediese dienste vir inwoners en besoekers gelewer kan word? Lede van die gemeenskap praat saam.
'n Plaaslike Gesondheidsentrum grens eintlik aan 'n noodsaaklikheid, nie net "voordelig" nie. In die afgelope maand het ons twee maal die behoefte gehad om dringend 'n dokter te sien (een maal vir 'n wond en een maal vir gemoedsrus). Wanneer dit by 'n mediese behoefte kom, is tyd 'n baie belangrike faktor. Dit is dus volgens my 'n noodsaaklikheid, ook vir ekonomiese groei om uiteindelik ook afgetrede inwoners met gemoedsrus te kan akkommodeer. Anné van Zyl
’n Mediese sentrum in Orania is nie ’n luuksheid nie — dis ’n noodsaaklikheid. Wanneer ’n noodgeval gebeur, maak minute saak. Dan beteken dit alles om hulp naby te hê, en nie eers na ’n volgende dorp te moet ry nie. Dit maak ook gewone gesondheidsorg makliker: mense kan vinnig kom inloer vir ’n ondersoek, wat help om probleme vroeg op te tel en die gemeenskap gesonder te hou. Daarby skep dit werk, versterk die plaaslike ekonomie en maak die dorp meer aantreklik vir nuwe gesinne en besoekers. Uiteindelik gee dit die gemeenskap iets wat jy nie kan koop nie: gemoedsrus. Die wete dat wanneer dit regtig tel, daar na jou gekyk sal word. Lia Wolhuter
'n Gesondheidsentrum in Orania is van kardinale belang om te verseker dat beide inwoners en besoekers met gemoedsrus met hul daaglikse aktiwiteite kan aangaan sonder om te bekommer dat hier nie voldoende gesondheidsorg is wanneer hulle dit benodig nie. 'n Na-ure diens is ook ‘n groot noodsaaklikheid want noodgevalle kies nie watter tyd van die dag om te gebeur nie. Voldoende gesondheidsorg is n belangrike trekkrag na Orania. Mense wil naby hospitale en dokters wees, veral wanneer hulle gesondheidsprobleme ondervind, ouer raak en ook ouers met klein kindertjies. Dit was een van die groot oorwegings toe ons 5 en half jaar terug hierheen getrek het. Ek is dankbaar vir die vordering wat reeds gemaak is met die nuwe gesondheidsentrum.






