← Sport

· Deur Dia van Staden

Meer as net 'n tou en brute krag

Vir Derick Smit (65), 'n legende in die wêreld van toutrek, is die sport meer as net 'n kragmeting.

Derick Smit het pas 'n toutrekkompetisie in Nottingham, Engeland, as skeidsregter bygewoon. Hier is hy in aksie by 'n vorige kompetisie in China. Derick wil dié ankersport in Orania uitbou.
Derick Smit het pas 'n toutrekkompetisie in Nottingham, Engeland, as skeidsregter bygewoon. Hier is hy in aksie by 'n vorige kompetisie in China. Derick wil dié ankersport in Orania uitbou.

Vir Derick Smit (65), 'n legende in die wêreld van toutrek, is die sport meer as net 'n kragmeting. Dit is 'n dissipline, 'n spanpoging en 'n lewenslange passie. Derick, wat sedert 1981 by die sport betrokke is, vier in 2026 sy 28ste jaar as 'n internasionale skeidsregter, 'n prestasie wat getuig van sy toewyding en kundigheid. Derick se pad na toutrek het in die vroeë tagtigerjare begin toe hy, as deel van sy militêre diens, 'n sport moes kies. Hy wou aanvanklik teen sy pa en oupa se aandrang tennis gekies, maar na sy eerste dag op die toutrekbaan het hy besef dat die sport 'n unieke uitdaging bied. Trouens, wetenskaplike studies wat in die 80's in Europa gedoen is, het bewys dat toutrek, saam met onderwaterhokkie en boks, die meeste van 'n atleet se krag in die kortste tydperk tap. Derick, 'n veteraan van die Comradesmarathon, getuig self dat hy nog nooit so moeg was soos na 'n naweek van toutrek nie. Die sport, wat deur agt lede per span met een aanvoerder en een reserwe gespeel word, het verskeie afdelings. Gewigte wissel van 280kg vir junior spanne tot 680kg vir senior mans. Die grootste toutrekbyeenkoms in Suid-Afrika is die junior nasionale kampioenskappe, wat byna 300 spanne lok. Tydens wêreldkampioenskappe mag klubspanne in 'n oop afdeling deelneem, wat 'n geleentheid skep vir klubs soos die een wat Derick in Orania wil vestig, om internasionaal mee te ding. Wat maak toutrek so spesiaal vir Derick? Hy beskryf dit as die "lekkerste spansport" omdat dit onwrikbare samewerking vereis. Sukses word behaal wanneer agt mense met dieselfde ingesteldheid en doel op dieselfde tyd saamwerk. Een lid wat nie sy of haar deel doen nie, kan die span se medalje kos. “Die sport bou 'n ongekende kameraadskap, en na elke wedstryd is respek vir die teenstander die norm,” vertel hy met oortuiging. Vir Derick is alles nie net 'n spel nie. As 'n internasionale skeidsregter, is hy gemoeid met 14 verskillende oortredinge waarvoor 'n span gepenaliseer kan word. Sy kennis en ervaring is so diep dat hy as een van die top drie skeidsregters in die wêreld geëvalueer is. Sy toewyding is onwrikbaar, selfs nadat hy in 2007 'n rugbesering in 'n motorongeluk opgedoen het, wat sy kinders laat grappies maak het dat toutrek 'n "godsdiens" in hul huis is. Die sleutel tot sukses in toutrek, sê Derick, lê nie in grootte nie, maar in tegniek en toewyding. Slegs 20% van die spel is fisiek, terwyl 80% van die sukses in die kop is. Belangrike tegnieke sluit in 'n reguit rug, die gebruik van jou gewig, en 'n sterk kern om jou eie gewig teen die tou te hou. Die toekoms van toutrek in Suid-Afrika lyk volgens hom blink. Die Wêreldkampioenskappe sal van 16 tot 20 September 2026 in Hartenbos plaasvind, waar Derick as hoofskeidsregter sal dien. Daar word ongeveer 400 spanne verwag. Intussen sal hy sy kennis en ervaring met 'n nuwe generasie toutrekkers deel en kursusse aanbied, want soos hy dit stel, sal hy seker "by toutrek betrokke wees tot hy doodgaan.“

Voorblad van Koerania - September 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2025, bladsy 12

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar