
Margie du Plessis het vir bykans 27 jaar haar onbaatsugtige diens aan Oraniërs gegee terwyl sy as persoonlike assistent vir verskeie uitvoerende hoofde by die Orania Dorpsraad gewerk het. Sy tree af en sien uit na rondrits en familietyd.
Lana Fourie
Dankie vir jou vriendskap, ondersteuning en raad. Ek gaan ons geselsies baie mis. Jy gaan ‘n groot leemte in die gange van die Dorpskantoor laat. Jy het altyd moeite gedoen om elkeen persoonlik te groet, dankie daarvoor. Mag hierdie nuwe seisoen, vreugde en rus bring. Mag die Here jou seën met goeie gesondheid. Geniet elke oomblik van jou welverdiende aftrede! Lana Fourie
Zelda van Staden
Margie het ‘n sagte hart wat toegewyd agter die skerms werk en sonder aanspraak op erkenning ‘n verskil maak. Sy is vindingryk en was daar nooit ‘n uitdaging sonder dat daar reeds ‘n plan gevorm het nie. Sy is iemand wat met stille vasberadenheid en betroubaarheid altyd bereid was om in te spring waar nodig en kon verseker dat dinge glad verloop. Ons gaan haar sprankel definitief mis. Zelda van Staden
Judith Vermeulen
Margie, die vier jaar was ‘n voorreg. Jy het ‘n impak op mense se lewens gemaak sonder om dit te besef. Wat ek sal onthou is jou opregte omgee, veral vir my kinders en hulle alledaagse lewens. Of dit nou hulle sport, skool of ‘n haarsny was jy het altyd met opregte belangstelling gevra hoe dit gegaan het. ’n Stop by jou lessenaar vir ‘n vinnige geselsie was nooit net vining nie. Jy het altyd gehelp sonder om erkenning te wou hê. Jou stille krag, nederigheid en hart wat werklik omgee het my diep geraak. Mag jou volgende hoofstuk soveel mooi inhou. Judith Vermeulen
Filicity Meyer
Na 28 jaar van onwrikbare toewyding neem Tannie Margie aan die einde van April 2026 afskeid van die Orania Dorpsraad, maar die spore wat sy los sal nog lank bly voortleef. Sy was nie net ’n kollega nie maar ’n anker en ’n steunpilaar vir soveel van ons. Elke oggend het sy doelbewus deur die gange gestap om elkeen persoonlik in hul kantore te groet, ’n eenvoudige maar diep betekenisvolle gebaar wat ons dae warmer gemaak het. Tannie Margie was altyd bereid om haar hande vuil te maak, altyd gereed met raad en altyd eerlik genoeg om jou op die regte pad te hou. Haar wysheid, haar omgee en haar unieke menswees maak haar werklik enig in haar soort. Ons gaan haar nie net mis nie, ons gaan die leemte voel. Sterkte vorentoe en mag jy altyd aan God vashou. Filicity Meyer
Marianne Gerber
Dit was ’n ongelooflike voorreg om sedert 2007 vir 18 jaar saam met tannie Margie te kon werk. Daar is min mense wat kan sê hulle het so lank saam met iemand gewerk vir wie hulle soveel respek en liefde het. Dankie vir alles wat tannie my deur die jare geleer het – in werk en in die lewe. Ons het soveel hoofstukke saam deurgemaak: tye van lekker lag, maar ook hartseertye. Mag die toekoms vir tannie gevul wees met rus, vreugde en vakansies wat nou regtig geniet kan word. Ek gaan tannie verskriklik baie mis! Marianne Gerber



