
'n Gesonde en liefdevolle band tussen 'n ma en haar dogter lê die fondament vir sterk gesinne en 'n Goddelike lewenswyse wat aan die volgende generasie oorgedra kan word. So 'n verhouding is belangrik omdat dit ruimte skep vir groei en leer – om saam te ontwikkel tot die beste weergawe van vrouwees, hetsy as ma of dogter. As ma weet ek dat ek nie alles weet nie. Ek moet bereid wees om te luister, om te leer – selfs by my dogter – en om nederig te wees en soms jammer te sê. Ek wil haar veilige hawe wees, altyd beskikbaar met liefdevolle raad. Ek wil hê sy moet altyd onthou dat sy 'n koningskind is, ongeag haar omstandighede. As dogter besef ek ook dat ek nie alles weet of verstaan nie, en daarom kies ek om altyd oop en eerlik met my ma te wees. Ek deel alles met haar – van my vreugdes tot my diepste seer. Ek weet sy gaan my nie veroordeel nie, maar my met wysheid en liefde lei, want sy wil altyd die beste vir my hê. Saam is ons nie net ma en dogter nie, maar ook vriendinne wat elke fase van die lewe saam koester en geniet met liefde, respek en kommunikasie as belangrike sleutels tot n mooi en gesonde verhouding.



