
Sy studeer Modeontwerp aan die Bloemfontein Mode-akademie, en beoog om aan die einde van 2025 haar kursus suksesvol te voltooi en Orania haar tuiste te maak. Lientjie Jacobs (22) het vrede gekry toe sy uiteindelik op dié studierigting besluit het. Sy verkies eerder voorspelbare omstandighede en hou nie van leer nie, maar weet dat dié tydperk 'n middel tot 'n doel is. Dié meisie wat visueel sterk ingestel is, kyk met opwinding na die toekoms en sien daarna uit om haar talent tot praktiese uitvoer te bring. “Dit is so bevredigend,” vertel sy opgewonde. “Ek is 'n ernstige mens. Ek moet beslis leer om bietjie te laat gaan,” erken sy. Alhoewel sy uitsoek vriende het, geniet sy dit om alleen te wees. “Ek wil besig wees met goed wat my dien,” sê Lientjie. Sy geniet dit om nuwe mense te ontmoet en het by 'n baie goeie kerk aangesluit waar sy geestelik gevoed word en kwaliteit mense ontmoet. Sy het begin draf, en geniet dit baie. Op die vraag hoe dié Oraniakind Bloemfontein beleef, vertel sy: “Min goed werk. Min paaie se sperlyne is geverf en daar is oral gate in die paaie. Die algemene verval is groot.” Die pogings wat aangewend is om op sommige plekke te probeer opknap tydens die verkiesing was nie volgens haar suksesvol nie. Die dilemma met elektrisiteit- en watervoorsiening is 'n redelike gereelde kopseer. Die klimaat is 'n uitdaging, maar nie veel anders as wat sy reeds in Orania leer ken het nie. Die heelwat meer verkeer was aanvanklik vir haar 'n uitdaging. “Mense ry soos wat hulle wil,” skerts sy. Aangesien sy baie na haar ouers verlang het, was die saam-wees altyd goed benut. Lientjie is dankbaar wanneer sy vertel dat daar die afgelope jaar sonkrag en boorgatwater by haar privaat woonstel beskikbaar was. Sy gaan vir die volgende jaar met twee ander studente 'n woonstel in 'n kompleks deel. Daar was lewenslesse en sy rammel hulle sommer maklik af. Sy het hernude waardering vir verhoudings en vriendskappe ontwikkel. “Ek het geleer dat 'n mens baie meer aanpasbaar is as wat jy self dink.” Haar klasse is meestal in engels, wat daartoe bygedra het dat haar tweetaligheid verbeter het. “My vriende probeer egter almal beter Afrikaans praat as hulle in my geselsskap is.” Woorde is vir haar soms leeg en betekenisloos, en wanneer sy in 'n verhouding is, is aanraking haar liefdestaal. Sy hunker egter daarna om spoedig haar ontwerpersmerk in Orania te kom maak. Sy het vroeg al agtergekom dat jy in Orania kan begin werk en 'n besigheid deeltyds kan begin ontwikkel. Die uiteindelike droom is 'n boetiek waar sy eksklusiewe kledingstukke vir kliënte kan maak, maar herinner haarself dadelik dat sy eers kapitaal bymekaar sal moet maak voordat sy daardie droom kan verwesenlik. “In Orania kan mens nog jongmens wees.” Vir haar beteken dit dat sy met haar fiets kan rondry, stap waar sy wil wees en nie heeltyd bekommerd hoef te wees dat haar goed gesteel gaan word nie. Sy wil tussen haar eie mense bly. “Ek moet egter nou hierdie doen, om te kry wat ek mettertyd wil hê!” Haar voorneme is om nie te hard op haarself te wees nie en moedig ander jongmense aan om bietjie genade vir hulself te toon en meer komplimente vir ander uit te deel.






