← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Ma's en dogters: Lene van der Walt en Rina van Dyk

'n Goeie verhouding tussen 'n ma en haar dogter lê die grondslag vir selfvertroue, veiligheid en emosionele stabiliteit.

Lene van der Walt (60) en Rina van Dyk (83) – foto 1

Van die eerste oomblik af wanneer 'n vrou 'n moeder word, besef sy eers werklik wat dit is om vir die res van haar lewe met 'n ewige en onvoorwaardelike liefde aan daardie klein mensie verbind is. 'n Goeie verhouding tussen 'n ma en haar dogter lê die grondslag vir selfvertroue, veiligheid en emosionele stabiliteit. Dis 'n unieke band wat oor generasies wysheid, liefde en ondersteuning dra. Wanneer daardie verhouding gesond is, dien dit as 'n anker in moeilike tye en 'n bron van vreugde in goeie tye. 'n Ma-dogter-verhouding is een van die mees vormende en betekenisvolle verhoudings in 'n vrou se lewe. Dis nie net die eerste voorbeeld van vrou-wees wat 'n dogter sien nie, maar ook die eerste plek waar sy leer van liefde, versorging, grense en vertroue. 'n Sterk band tussen ma en dogter skep 'n veilige grondslag waarop al die ander verhoudings in haar lewe kan bou. Dis een van daardie verhoudings wat jou vorm van kleins af – dit gee jou 'n veilige plek om jouself te wees. Dis 'n verhouding waarbinne daar plek is vir beide groei en terugval, vir raad én vir stilte. Wanneer dinge moeilik gaan, is daardie band iets waaraan mens kan vasklou. Ons maak tyd vir mekaar, of dit nou 'n vinnige koffie of net 'n hallo sê is, maar ons dwing dit nie af nie, dit gebeur natuurlik. Ons verskil soms, maar omdat respek en eerlikheid vir ons belangrik is, luister ons na mekaar en gee ruimte vir mekaar se perspektiewe en persoonlikhede. Dis juis daardie balans van liefde en begrip wat dit werkend hou. Ons verhouding is nie perfek nie, maar dis eg. Dis ook 'n verhouding wat saam ontwikkel: van versorging en leiding in kinderjare, tot ondersteuning, vriendskap en selfs wederkerige respek in volwasse jare. Wanneer die verhouding goed is, voel dit soos 'n rusplek – iemand wat altyd jou kant kies, maar ook eerlik met jou is wanneer jy dit die nodigste het. 'n Ma leer haar dogter van krag in gebed en geloof. 'n Dogter herinner haar ma daaraan dat groei nooit ophou nie. Dis 'n band wat, selfs met sy uitdagings, 'n diep gevoel van behoort en verbondenheid gee. Daarom glo ons dat LIEFDE die grootste faktor is vir 'n mooi verhouding.

Voorblad van Koerania - Augustus 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Augustus 2025, bladsy 9

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar