
Bo-Karoo Opleiding spit sooi Bo-Karoo Opleiding, Orania se tersiêre instelling, het op 8 Junie die sooi gespit vir 'n splinternuwe gebou wat klaskamers, kantore, rekenaarlokale en werkswinkels sal insluit. Dié uitbreiding getuig van die belangrikheid van die skaarsvaardighede waarvoor BKO opleiding bied. Paul Vogel, uitvoerende hoof van Bo-Karoo Opleiding, sê: "Wat vandag begin verrys is deel van iets baie groot. Ons visie na 800 studente, met 'n droom na 8 000 studente."
Orania teer nog ‘n pad Die onlangse teerpadprojek van die servituutpad is suksesvol afgehandel en die bietjie teer wat oorgebly het word nou effektief aangewend. Die pad na Kleingeluk word herstel en sal binnekort weer ‘n beter ryoppervlak bied.
OVD-Watervleuel Reddingsoefeninge Die Orania Veiligheidsdienste se watervleuel bied bystand tydens noodsituasies op, of langs die rivier. Die watervleuel bestaan uit vrywilligers wat hulself gewillig verklaar het om dié noodsaaklike diens te verrig. Die span moet voortdurend paraat wees en maak seker dat hul gereeld oefen vir gebeurlikhede. Een keer per jaar word daar 'n veiligheidsdemonstrasie gehou wat deur die publiek bygewoon word. Vanjaar se demonstrasie het op 30 Mei plaasgevind waar drie verskillende noodsituasies gesimuleer is.
Alexia vir Noord-Kaap-netbalspan gekies Alexia Smit is vir die Noord-Kaap “Diamonds” netbalspan gekies, wat die onlangs by Ellispark aan die Telkom Netballiga deelgeneem het. Alexia is ‘n onderwyseres by die Orania CVO-skool en lid van die Bo-Karoo Gemsbokke-netbalspan in Orania. Alexia en die span het kragte gemeet met al agt ander provinsies, en lê tans vierde op die telbord, met Wes-Kaap, Vrystaat en (met slegs enkele punte!) Limpopo wat bo hulle is. Die toernooi gaan in Junie voort.





