← Sake

· Deur Dia van Staden

Konstruksiekenners wil die bedryf optimaliseer

Elkeen van die verteenwoordigers het na unieke aspekte van die bedryf gekyk terwyl hulle indrukwekkende ontwikkelings gade geslaan het.

André van Heerden Niel de Klerk Ohann Fourie
André van Heerden Niel de Klerk Ohann Fourie

Hulle doel was om die Europese konstruksiebedryf te ondersoek en navorsing te doen oor hoe hulle werk, en om idees te kry hoe om die bedryf na die volgende vlak te neem. Gedurende April het die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) 'n afvaardiging van Orania aangewys om verskeie werksplekke, fabrieke en konstruksieterreine te besoek waar waardevolle kennis opgedoen kon word. Op 7 April het Niel de Klerk, Hoof van Ontwikkeling by die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM), André van Heerden, Hoof van Ingenieursdienste by die Orania Dorpsraad en Ohann Fourie, Projekbestuurder by Spektrum Ondernemings in München geland om die konstruksiebelewenis af te skop deur die Bauma Expo te besoek. Elkeen van die verteenwoordigers het na unieke aspekte van die bedryf gekyk terwyl hulle indrukwekkende ontwikkelings gade geslaan het. Niel het op ontwikkeling gefokus, terwyl André dieper in dienste en infrastruktuur gedelf het. Ohann wou die praktiese uitvoering van konstruksiebedrywighede ondersoek. Dié 3 se verwagtinge is ver oortref en hulle vertel met verwondering van hulle bevindinge. Niel vertel: “Ek het gedink ons gaan sien dat konstruksie van harde arbeid na meganisasie geskuif het. My verwagting is oortref. Hul is van meganisasie na outomatisering toe. Daar is sisteme in plek wat masjiene beheer. Dit is soos die motorbedryf wat self ry – hier vind jy konstruksiemotors wat self ry. André noem dat hy verwag het om uitnemendheid te sien. Die uitbou van toerisme en die vertrapping deur toeriste om na natuurlike verskynsels en infrastruktuur te kyk was opvallend. “Europa se stede is indrukwekkend, maar die gedeeltelike verval van infrastruktuur is tog op plekke opmerklik.” Hy was beindruk met die kwaliteit van die paaie en vertel met verwondering dat jy in geen dorp getwyfel het of jy die kraanwater kon drink nie. Hy was verbaas oor die feit dat hy geen stortingsterrein kon waarneem nie. “My idee van Europa was dat dit 'n wow plek is, met alle geboue wat al honderde jare staan. Die vakmanne wat vir daardie argitektuur verantwoordelik was is nie meer daar nie,” sê Ohann. Hy wou graag sien hoe hul bouterreine opstel en voorberei sodat materiaal maklik vloei en bourommel effektief bestuur kan word. “Daar word baie aandag gegee aan isolasie en deeglike beplanning word gedoen waar die klimaat en isolasie bedink word,” vertel Niel. Vele houthuise wat met 'n steenmuur omring word, wat beteken dat die huis goed geseël is (.4bar druktoets deurstaan), met 'n warmwaterstelsel wat van binne die huis met 'n kraantjie beheer kan word, was indrukwekkend. Op verskeie terreine kon hulle een persoon in 'n gemeganiseerde tuig sien wat 'n paar persone se werk vanuit sy sitplek doen. “Dit verminder arbeid, maar dit verhoog die spoed en kwaliteit van konstruksiewerk geweldig,” stem hulle saam. André beduie hoe hy hoendervleis gekry het vir hoe antieke geboue se vooraansigte behou word, maar die agterkant gemoderniseer word met 'n nuwe konstruksie. “Veral in Duitsland bly die vakmanskap, argitektuur en kultuur op dié manier behoue.” Die afwerking van huise se binnekant kon Ohann waardeer. “Die kwaliteit en standaard van die bouwerk, afronding en die seisonale efffektiwiteit waarmee hulle bou, het my verstom.” Hulle weet nou dat die meerderheid van Orania se kontrakteurs geen treë hoef terug te staan vir die Europese kennis nie. “Ons hoef nie die wiel te herontwerp nie. Die aanwending van tegnologie is uiters belangrik as ons die kwaliteit van ons werk 'n reuse hupstoot wil gee. Die breinkrag is hier om op dieselfde vlak te funksioneer.” Die besef is daar dat goedkoop arbeid in Suid-Afrika die arbeider 'n geweldige slag toegedien het. “Ons is op die regte plek, waar ons vryheid het. Dit is nie onmoontlik om dieselfde masjienerie te kry nie, alhoewel daardie verskaffers se BEE-status hulle stuit om na Suid-Afrika uit te voer.” In verband met die praktiese toepassing van lesse wat hulle daar geleer het gesels hulle: “Ons is besig om Bloemfonteinse maatskappye skatryk te maak. Ons moet ons eie toerusting bekom. Ons moet ons eie betonfabriek bou. Ons het 'n hyskraan en masjienerie nodig, maar ons moet terugstaan en bedink of ons nie self van dié noodsaaklike masjienerie kan bou nie.” André het vir sy span by infrastruktuur genoem dat dit tyd is om byl te slyp. Hulle moet innoverend wees en moontlike aanpassings op masjienerie of toerusting bedink en selfs bou wat hulle werk makliker kan maak, juis om kwaliteit en tyd beter aan te wend. Die fokus op estetika van geboue in Europa het hulle met die boodskap laat terugkom dat daar 'n groter klem op die ontwerp van mooi geboue moet wees. Iets wat eie aan die Afrikaner sal wees. Dat industriele en kommersiele kontrakteurs spesialiste is en residensiële kontrakteurs as 'n span kan werk, beteken ook dat die oprigting van geboue, wat in fases gebeur, tot vinniger resultate kan lei. Verhoudings met instansies in Suid-Tirool en Vlaandere is versterk, aangesien hulle ook werk na onafhanklikheid van die groter staat. Niel beklemtoon dat arbeiders opgehef en bemagtig moet word. “Ons wil nie van hulle ontslae raak nie. Ons wil hulle vaardighede gee sodat hulle dit steeds self kan doen, maar daar moet deur individue op meer as een spesialiteit gefokus kan word.”

André van Heerden Ohann Fourie Niel de Klerk
André van Heerden Ohann Fourie Niel de Klerk
Vensterisolasie in Nederland – 3 lae glas
Vensterisolasie in Nederland – 3 lae glas
Vooraansig van ’n gebou bly behoue in Ostend België
Vooraansig van ’n gebou bly behoue in Ostend België
Voorblad van Koerania - Mei 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Mei 2025, bladsy 1

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar
Foto by die berig: Wes-Kaap kenner kom kuier
Sake/

Wes-Kaap kenner kom kuier

Abri Ferreira, President van die Oudtshoorn Besigheidskamer, het Orania onlangs besoek en die feite rondom die hantering van B-BBEE vir kleinsake aangespreek.

Deur KoeraniaLees berig