
Daar is liefde in die lug en 14 Februarie het wêreldwyd dié dag vir paartjies geword om hul liefde op verskeie maniere ten toon te stel. Sosiale media word oorlaai met hartjies end it drup behoorlik van die stroop as geliefdes mekaar met getikte woorde besing. Ek wonder gedurig… Het ons die moed en oortuiging om 'n geliefde nog in die oë te kyk en ons liefde hardop te verklaar? Doen ons dit sodat die ander helfte gereeld daaraan herinner word dat respek en waardering altyd 'n groot deel van die verhouding sal wees? Gedurende Desember is daar die 16 dae waar klem gelê word op die bewusmaking teen geslagsgebaseerde geweld. Die 16 dae van aktivisme-veldtog teen geweld op vroue en kinders is 'n jaarlikse Verenigde Nasiesinisiatief wat fokus op die bewusmaking van die negatiewe impak wat geslagsgeweld, nie net op vroue en kinders het nie, maar op 'n samelewing. Geslagsgebaseerde geweld (GBG) is 'n daad wat 'n individu fisiese, seksuele, sielkundige of ekonomiese skade op grond van hulle geslag of seksualiteit berokken. Hoe moet die Vader hom vir die mensdom skaam? Net die feit dat dit gebeur en daar 'n veldtog daarvoor geloods moet word, is 'n skreiende skande! Gereelde gesprekke oor soortgelyke temas bring die kwelling van afwesige pa's na vore.
Navorsing het getoon dat 'n afwesige pa, selfs een wat saam met sy kind in die huis is, maar emosioneel afwesig is, 'n besliste uitwerking op 'n kind se lewe het. Die redes vir afwesigheid wissel natuurlik. Dit kan sterfte, egskeiding, werksverpligtinge of aangenome kinders wees. Die feit bly staan dat verwerping 'n ernstige gevolg hiervan kan wees. Romeine 13:10 – Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet. Indien daar 'n kind, vrou, man, gestremde of bejaarde aan jou sorg toevertrou word is dit jou Christelike plig om in liefde op te tree. Jou keuse van 'n eggenoot was, vir alle praktiese doeleindes, JOUNE! Gaan kyk eers in die spieël as jy 'n fout gemaak het, voordat jy vingers wil wys of kritiek wil uitspreek. 1 Korinthiërs 13: 4 en 5 -Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie.Gaan skink nou koffie vir twee en seël dit met 'n soentjie! Dis soms net die klein dingetjies wat ook tel.



