← Sake

· Deur Dia van Staden

Kleretrommel trek 'n nuwe baadjie aan

“Dit moet vir 'n skenker en die koper visuele impak skep sodat die ervaring positief kan wees,” verduidelik Pieter.

Alhoewel die Kleretrommel tweedehandse items verkoop, moet ons vir die koper steeds 'n goeie koopervaring bied en beplan ons om 'n voorbeeld vir die kleinhandel te stel,” aldus Pieter Biscchoff, hoof van inligting en bemarking by die Orania Ontwikkelingsmaatskappy. 'n Splinternuwe Kleretrommel open eersdaags sy deure by 'n nuwe en meer moderne perseel wat steeds vir die gemeenskap en die publiek maklik toegangklik sal wees. Die groter winkel bied die ruimte om 'n groter verskeidenheid produkte aan te hou waar klere en ander items netjies gemerk is en die voorkoms van die winkel met die eerste oogopslag 'n professionele beeld skep. “Dit moet vir 'n skenker en die koper visuele impak skep sodat die ervaring positief kan wees,” verduidelik Pieter. Die nuwe Kleretrommel word tans reg langs die apteek ingerig waar die uitleg met die hulp van Helpende Hand se Ons Winkelkundigheid beplan word. Die behoefte aan tweedehandse meubels, sporttoerusting, huishoudelike ware en toebehore, boeke, CD's en kaggeltwakkies sal hier geakkommodeer kan word. Nuwe kaste, meer vensters, die herbou van vloere en mure, goeie beligting, lugversorging, plaveisel aan die voorkant en netjiese handelsmerke vorm deel van die nuwe baadjie wat die Kleretrommel tans aantrek. “Ons skep 'n fabriek in 'n kleinhandelomgewing.” Na aanleiding van die onlangse kritiek dat items aan vreemdelinge verkoop word, verduidelik Pieter: “Ons bedien eerstens die Oraniamark, maar ons sal nie 'n politieke risiko veroorsaak nie. Die hele kwessie van koop of nie verkoop nie is wat die Dorpsraad moet hanteer en nie Orania Helpmekaar nie. Die Dorpsraad bepaal daardie toegang en Helpmekaar hou hom besig waarmee hy moet besig wees.” Volgens hom word die wins van die kleretrommel veeldoelig aangewend. “Wanneer 'n skenker 'n item skenk, is dit nie die koper wat primer daarby baatvind nie. Wanneer die item teen 'n billike bedrag verkoop word help jy die koper, maar die geld wat jy genereer kan aangewend word waar die werklike nood is.” Pieter vertel dat die nood byvoorbeeld by 'n kind is waar die ouers nie skoolfonds kan bekostig nie of hulp aan kinders wat andersins behadeel word. “Die inkomste gee vir jou geld om nood binne jou gemeenskap aan te spreek.” Pieter noem: “Orania Helpmekaar moet 'n gemeenskapsinstelling word, maar die ekonomiese enjin moet sin maak. Daar word 'n nuwe inisiatief gedryf waar 'n werknemer toestemming van hul personeel vra om maandeliks 'n klein bedrag uit elke individu se salaris aan Orania Helpmekaar oor te betaal. Dit skep 'n gevoel van gemeenskap omdat elkeen eienaarskap neem van die gemeenskap se behoeftes.” Kontak Pieter by pieter@ontwikkelorania.co.za of skakel hom by 061 813 8272 vir meer inligting.

Voorblad van Koerania - Februarie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Februarie 2025, bladsy 7

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar