
Bekroonde teaterproduksies, kunstenaars en regisseurs is volop op die program vir die 30ste KKNK op Oudtshoorn. Die KKNK bied die afgelope drie dekades ’n platform vir Suid-Afrika se voorste teaterproduksies en teatermakers en die 2026 fees is geen uitsondering nie. Vanjaar word die KKNK, van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April op Oudtshoorn aangebied. Onder die aanbod van bekroondes wat ’n draai in die Klein Karoo maak tel dramas, komedie, musiek, dans- én kinderteater. Ek is nie Danie met Albert Pretorius en Schalk Joubert is bekroon met vier Woordtrofees by die Stellenbosch Woordfees in 2025 – beste toneelstuk, beste teksverwerking en/of samestelling (Danie Marais), beste manlike speler (Pretorius) en uitsonderlike tegniese bydrae vir Joubert se regstreekse klankontwerp. Dana Snyman se Seun met Wilhelm van der Walt en onder regie van Nico Scheepers, is bekroon met vyf pryse by Aardklop 2025, waaronder beste toneelaanbieding, beste regie en gehoorgunsteling. Dié drama was ook bekroon met die Woordtrofee vir beste eenpersoonsvertoning by die Stellenbosch Woordfees in 2025. Frank Opperman is terug op die verhoog in Reünie, bekroon met die kykNET
Fiësta-prys vir beste akteur vir sy spel in dié komediedrama. Chris Vorster se Gebou soos Steffi Graf is in 2025 by die Vrystaat Kunstefees bekroon met die Vryskitter-prys vir beste vertolking en beste stelontwerp. Alfred Adrian se stand-up-vertoning Positive Strokes is bekroon met die Aardklop UitKlop-prys in 2025. Mandri Sutherland, oftewel Vroudrie, was bekroon as beste aktrise en vir grensverskuiwende werk by die Vrystaat Kunstefees in 2023. Sy is by die KKNK te sien in Vrou ens. 1.2. Oudtshoorn se eie Karoo Kaarte-span, agter veelbekroonde produksies soos Die Swartmerrie en Droomkraan Kronieke, is terug met ’n splinternuwe drama, Spoel wat lewe kry uit dié KKNK-projek se navorsing. Feesgangers kan ook uitsien na die Zip Zap Circus se eerste optrede by die KKNK met MOYA. Dié geselskap is oor die jare bekroon met verskeie pryse, as uitsonderlike sirkus geselskap en vir hul sosiale impak. Hierdie erkenning sluit pryse van die Wes-Kaapse regering, BASA én die International Circus Awards in. Die musiekprogram sluit bekroondes in met Stephanie Baartman en pianis Janine Neethling op die verhoog in Hoort, wenner van die Woordtrofee vir uitsonderlike bydrae tot kontemporêre musiek: klein groepe by die Stellenbosch Woordfees in 2025. The Scullery Quintet se Stir-Fried Sonatas was die wenner van die Aardklop-pryse vir beste musiekgedrewe produksie, asook grensverskuiwende werk. Winand Grundling is welbekend onder KKNK-gehore as orrelis en reeds met drie Kannas bekroon – hy is vanjaar as pianis op die verhoog in A Victor Borge Tribute. Bekroonde kinderteater is ook ingesluit, met Laerskool Durbanville se Potloodsakkie: Agter die zip, wat een van ses laerskoolproduksies was wat deel geneem het aan die ATKV-
Tjokkertoneelfinaal by die Baxter-teater in 2025. Addisioneel tot dié talle bekroonde produksies, is verskeie produksies en kunstenaars ook benoem vir pryse. Hieronder tel Breyten Breytenbach se drama Boklied, benoem vir vyf Woordtrofees by die Stellenbosch Woordfees in 2025, waaronder beste produksie en beste regie. Op die verhoog is De Klerk Oelofse, David Viviers, Obed de Koker, Ntombi Makhutshi, Wian Taljaard, Keagon Cochrane, Hannah Borthwick, Jurgen McEwan en Ben Albertyn, onder regie van Marthinus Basson. Magda Louw en haar Erhard: How Louw can you go? was ’n topverkoper by die Vrystaat Kunstefees in 2025 en benoem vir vier Aardkloppryse, waaronder beste toneelaanbieding. Hannes van Wyk en Desiré Gardner deel die verhoog. Beste van alle tye met Ané Koegelenberg en Christie van Niekerk was benoem vir die Kanna vir beste komedie én beste Blitsteater-aanbieding by die KKNK in 2025 en is nou op die verhoog as ’n vollengte teaterproduksie. Doolhof met Minke Marais en Vian Singleton, met teks en regie deur Robert Kruger, is benoem vir vier Aardklop-pryse in 2025 - beste aktrise (Marais), beste regie (Kruger), beste aanbieding toneel en beste nuutgeskrewe Afrikaanse teks (Kruger). Feesgangers het ’n wonderlike geleentheid om al hierdie bekroonde produksies, kunstenaars en regisseurs in die Klein Karoo te sien. Die volledige program vir die 30ste KKNK, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.






