← Kultuur

· Deur Koerania-redaksie

Kerslig, vers, melodie en eindelose dankbaarheid

Dit is feestyd in die Bo-Karoo. 'n Eerste vir ons gesin.

Franna Benadé.
Franna Benadé.

Dit is feestyd in die Bo-Karoo. 'n Eerste vir ons gesin. 'n Desember propvol vakansiepret wat soveel bied vir gesinne en hul kinders. Wat van 'n bietjie kwaliteit-tyd vir Ma en Pa? Ek lees 'Kerslig, Vers en Melodie' in Koerania raak, terwyl ek 'n koppie koffie in ons eerste snikhete paar dae, op die stoep buite Snippie Snappie sit en geniet. “Kom sê saam dankie vir 'n genadejaar,” praat die Here met my.

Drag: Semi-formeel. Ag, om 'n bietjie te kan optof vir 'n slag en om 'n 'grootmens' partytjie in die Bo-Karoo by te woon. Mamma en Pappa se eerste, noem dit nou maar 'date night' op die platteland. Kunstenaar: Franna Benade. Hoewel ek nou nie bekend is met sy hedendaagse musiek nie, is my portuur se mense almal uit die Innes en Franna-era en onthou die manne uit die 80's maar al te goed. Die oop-mond lag van die mooi man op die advertensie is 'n finale uitnodiging om met 'n lied in jou hart jou dankbaarheid te kom betuig. Boonop klink die kos en wyn heerlik en ek bespreek sommer daar en dan. Ek en Ouman is uitgevat vir ons aandjie en net om op straat te kan stap vul my met die allergrootste dankbaarheid. Die sakkende son sorg, soos altyd, vir 'n skouspel en met die sagte somerson op my oop skouers en 'n lou briesie deur die hare arriveer ons by Oppidorp. Ons word gul verwelkom en sommer sumier aan 'n paar lieflike mense voorgestel. Ons beleef onverdunde Noord-Kaapse gasvryheid en ongekompliseerde samesyn. Aan ons tafel sit die interessantste mense: onder andere 'n storieboek-boer en sy onderwyseres-vrou van duskant Hopetown. Ons skerts en kuier saam soos mense wat al lank saamloop. Franna Benade is imponerend. Sy storievertellings voer mens mee en ek kan nie help om die man sy ongelooflike lewensblyheid te beny nie. Tussendeur word diep verse deur Dia van Staden voorgelees. Stof tot nadenke. 'n Manifestering om halt te roep in jou gejaagde lewe en te hunker na dit wat werklik saakmaak. Tot lank na agt bly die hemel bo die laning dennebome, wat die dorp soos 'n soom van die buitewereld afsper, helder oranje en pienk… Mooier as wat ek ooit onthou.

Ek verkyk my. Swerms voëls sweef geruisloos verby. Met nog 'n vertelling in die agtergrond bly ek opkyk om die Here se vertoning ook in te neem. Ek kyk weer na die jolige mense om ons. Die stylvol gedekte tafels, die pikante wynglase en keurig voorbereide kos. 'n Ware somer Kersfees en vakansie soos geen ander. Kerslig, vers en melodie was nog nooit so mooi nie. Saam sê ons dankie vir nog 'n genadejaar. Franna Benadé het op sy kenmerklike manier die gehoor gelees en tipiese Afrikaanse liedjies

Johan Hannah, Raymond en Wilna van Tonder het die samesyn in die buitelug geniet.
Johan Hannah, Raymond en Wilna van Tonder het die samesyn in die buitelug geniet.
Oppidorp se span het die gehoor met rooswater en wyn verwelkom, waarna smaaklike roosterkoek met ‘n vulsel bedien is. Hier pryk hulle saam met Franna Benadé.
Oppidorp se span het die gehoor met rooswater en wyn verwelkom, waarna smaaklike roosterkoek met ‘n vulsel bedien is. Hier pryk hulle saam met Franna Benadé.
Gaste kuier saam by Oppidorp; geen ongeïdentifiseerde name is bygevoeg nie.
Gaste kuier saam by Oppidorp; geen ongeïdentifiseerde name is bygevoeg nie.
Irma en Barry Delport het heerlik met Amanda en Errol Saayman gekuier tydens die geleentheid.
Irma en Barry Delport het heerlik met Amanda en Errol Saayman gekuier tydens die geleentheid.
Voorblad van Koerania - Januarie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Januarie 2025, bladsy 8

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar