
Op 13 en 14 Junie het die 21ste Kaalvoetkonsert plaasgevind. Die Kaalvoetvroue bied dit jaarliks aan sodat fondse vir nuwe ontwikkelings ingesamel kan word wat die dorp verfraai of geskiedkundige waarde toevoeg. Die mimiek van liedjies, die choreografie en bewegings word weke vooraf al geoefen. Alhoewel die Kaalvoetkonsert die afgelope paar jaar deel gevorm het van die Orania Karnavalprogram, is daar vanjaar besluit om dit as 'n afsonderlike gebeurtenis aan te bied. Die besige sosiale program van Orania laat toe dat bekende geleenthede hul eie gehore trek en vermaak. Daar is 24 liedjies opgevoer, maar vanjaar was dit die instrumentaliste wat die kollig gesteel het. Die fop kitaarspelers, dromspelers en meerderheid klavierspelers het dit met oorgawe gedoen, sodat dit byna na die ware Jakob gelyk het.
Die span wat vir die verhoogbestuur verantwoordelik was verdien beslis 'n pluimpie of twee. Hulle het met perfekte sinkronisasie die op- en af van toerusting, instrumente, rekwisiete en deelnemers hanteer. Wel gedaan Annelize Kruger, Dedré Lourens, Mari van Niekerk en Dirk Klynsmith! Die beoordelaars het nie 'n maklike taak gehad om uit 24 items die wenners te kies nie. Uiteindelik was Roepstem 'n groot gunsteling! Orania sien uit na jaar 22 van Kaalvoetkonserte!







