
Julian van Tonder woon in die Gizan Provinsie, wat aan Yemen grens. Daar is gebiede waar geen internetseine, vir sekuriteitsredes, beskikbaar is nie. Hy vertel da thy help bou aan die Gizan Power Economic City. Die woestyn se duine word met trokke uitgery om fondasies te lê en sodoende die dorp, Baish, te ontwikkel. Hy is 'n Proseskontroleerder vir die maatskappy, JICPC, en verduidelik dat afvalprodukte van olieverwerking gebruik word om in suiwer gas om te skakel. Hy geniet dit om sy 21 vakansiedae 'n jaar en 2 vliegkaartjies aan te wend om by sy pa, Raymond, en stiefma, Wilna, in Orania te kom kuier. Julian vertel dat Afrikaans vir hom koning is en sy moedertaal maak hom 'n trotse Afrikaner. Orania is vir hom 'n hartlike plek waar hy samesyn met nuwe vriende en familie kan geniet. “Mense kyk hier na mekaar en bou saam.” Dit is vir hom opvallend dat besigheidseienaars hier trots op hul werk is en goeie diens lewer. “Ek en my 2 dogters het verskeie plekke besoek en vriendelike diens is oral sigbaar. Niemand is skaam om jou na hul eie kompetisie te verwys nie.” Hy vertel dat die werksetiek in Saudi Arabië op 'n ander vlak is. “SA was 150 jaar terug so,” skerts hy. “Ons werk werklik lekker. Wanneer ons werk, werk ons. Wanneer ons lag, lag ons. Ons is 'n span met uiteenlopende nasionaliteite wat almal saam hard werk.” Dié man vertel hoe jy binne minute kan ontwater in die 50 grade, met 'n humiditeit van ongeveer 80 grade in hul werksplek. Sedert sy laaste besoek in Desember was daar reeds baie residensiële ontwikkeling merkbaar en wanneer hy weer besoek aflê sal dit vir hom gaaf wees as die Oewerpad geteer is, want dit is, volgens hom, 'n seer oog en negatiewe ervaring vir 'n toeris. Sy wens vir Orania is dat hier genoeg mense sal bly en hierheen sal trek wat die plek aan die gang sal hou. “Staan op vir die volk, vir kultuur en taal. Solank daar genoeg mense is om dit te bevorder, sal dit bly staan,” sluit hy positief af.




