
Alhoewel sy vir 6 onderskeidings gemik het, is Juané van Zyl tevrede met haar 5, want sy volg steeds die studierigting wat haar eerste keuse was. Vir die volgende vier jaar, as alles goed gaan, sal dié 19 jarige haar droom aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein najaag. “Ek wou nog altyd in 'n mediese rigting studeer en nou bied kliniese tegnologie my daardie geleentheid,” vertel sy opgewonde. Juané is die top akademiese matrikulant wat die Orania CVO-skool in 2024 opgelewer het. Sy het hierdie studierigting nie lukraak gekies nie. “Kliniese Tegnologie stem ooreen met my belangstellings. Behalwe dat dit interessante deure kan open, is daar 'n aanvraag vir opgeleide persone.” Dié meisiekind skroom nie vir nuwe ervarings of om iets buitengewoon te leer nie. Om permanent oorsee te gaan werk en woon is nie tans op haar emmerlys nie. Sy sal egter nie 'n geleentheid om vir 'n rukkie daar te gaan werk, ignoreer nie. Sy is op haar gelukkigste tussen haar familie en vriende, maar is ook lief vir die natuur en 'n diereliefhebber. Haar goue herinneringe van haar skoolloopbaan, wat nog vars in haar geheue is, sal die vriende en besonderse mense wat sy ontmoet het, moet insluit. “Ek kies vriende wat sterk is in hulle geloof en waardes belangrik ag. My vriende is mense wat dieselfde waardes as ek het. Ek hou van mense wat vriendelik is en 'n goeie sin vir humor het.”
Dié gestruktureerde dametjie verpes dit as planne nie georganiseerd verloop nie. “Alles loop nie altyd volgens plan nie, maar ek sal altyd probeer aanpas, al is dit soms moeilik.” Tydmors of om laat te wees vorm nie deel van haar mondering nie. “Ek is gegrond in my waardes en geloof. Ek weet dat ek enige iets kan bereik deur Christus wat vir my krag gee. Ek probeer om 'n positiewe gesindheid te hê en optimisties te bly.” Haar boodskap aan ander jongmense is dat slegte tye slegs tydelik is. “Die lewe is vol uitdagings, daarom moet mens leer om slegte tye te verdra, sodat jy die goeie tye meer kan waardeer!” Gaan lees gerus meer oor die interessante studierigting by CUT | Health Sciences in Clinical Technology




