← Gemeenskap

· Deur Dia van Staden

Johan gee die aflosstokkie na meer as 13 jaar oor

Na dertien en 'n half jaar aan die stuur van die Orania CVO-skool, het Johan de Klerk die aflosstokkie amptelik aan Susan Nieuwoudt oorhandig.

Johan gee die aflosstokkie na meer as 13 jaar oor – foto 1

Na dertien en 'n half jaar aan die stuur van die Orania CVO-skool, het Johan de Klerk die aflosstokkie amptelik aan Susan Nieuwoudt oorhandig. Op 56-jarige ouderdom kyk hy terug op 'n onderwysloopbaan van 32 jaar, meesal toegewy aan die plattelandse kind. Johan se pad het in 1990 by Kovsies begin, waar hy onderwys studeer het. Hierop het 'n diepgaande teologiese reis gevolg, wat sy eerste voltydse graad, tesame met twee nagraadse teologiegrade, insluit. Hy het sy akademiese kennis verder verbreed met 'n Honneurs in Onderwysbestuur en- leierskap. Die skuif na Orania was vir hom en sy gesin – vrou Leoni, dogter Christi en seun Drian, 'n natuurlike progressie. Eben is in 2015 in Orania gebore. "Van laerskool af het ek met politieke bewustheid grootgeword," verduidelik hy. Op universiteit, reeds in 1990, was die konsep van Orania en die volkstaatgedagte op die voorgrond. Die familie het in 2012 na Orania verskuif nadat die skoolhoofpos geadverteer is. Na 18 jaar in Brandfort, waar hy onder andere as tegniese onderwyser skoolgehou het, was die aansporing om na Orania te skuif groot. Die Orania-verbintenis was lank reeds daar – hy het menige vakansie hier by sy broer, Frans, kom kuier en vele sypaadjies geskoffel. Een van sy grootste hoogtepunte in die onderwys was toe 'n seun, wat in 2016 in matriek was, onlangs vir hom 'n Whatsappboodskap gestuur het: "Ek wil net sê jy was 'n great skoolhoof gewees. Jy het met jou eerste toespraak genoem dat jy die waardes van die skool sou behou. Onder jou leiding het die skool 'n spogskool en uitblinker in die Noord-Kaap geword. Jy het daartoe bygedra dat ek ontwikkel het in die man wat ek vandag is. Ek is opreg dankbaar daarvoor." Vir Johan bevestig sulke woorde dat die onderwys die moeite werd is. “'n Mens saai wetend en onwetend in iemand se lewe,” noem 'n emosionele Johan. Hy beklemtoon die unieke uitdagings van plattelandse onderwys: “Plattelandse hulpbronne is altyd minder, en daarom is die uitdaging om te kompeteer groot.” Hy glo egter plattelandse kinders staan hulle plek in gemeenskappe vol en dat die skool die hulpmiddels uit die gemeenskap moet kan aanwend.

Onder sy leierskap het die klassikale deel van die skool van 210 tot meer as 350 kinders gegroei wat die ankerrol van CVO in Orania beklemtoon. 'n Leierseienskap wat hy respekteer, is waar iemand wat die Here ken, homself nie heeltyd op die voorgrond stel nie, maar die saak dien.” Sy gunsteling tydverdryf is bergfietsry, 'n stokperdjie wat begin het toe hy 'n fiets as geskenk van sy broer af gekry het, en die jaarlikse staptogte wat hy reël. Nou wink daar nuwe opwinding. Hy sien daarna uit om in die gemeenskap by te dra, veral met die jeugbediening by die NG-Kerk. Hy wil fokus op die kwaliteit van sy prediking sodat daar lewe daaruit kan kom. Sy nuwe rol as Akademiese Hoof by die skool beteken dat Johan sal fokus op die handhawing en bevordering van opvoedkundige standaarde en gehalte binne die skool. Dié pos behels 'n mengsel van strategiese akademiese leierskap, kwaliteitbeheer, personeelontwikkeling en gespesialiseerde leerderondersteuning, alles binne 'n raamwerk wat innovasie aanmoedig om volhoubare akademiese sukses te verseker. Sy wens vir CVO Skool Orania is dat hulle van krag tot krag sal gaan en 'n verskil in kinders se lewens maak sodat hul toegerus sal wees vir die lewe. Vir Susan het hy seënwense, met die hoop dat die skool se opvoedkunde en die bestuurstyl van die waarheid sal getuig. Aan die oudleerders is sy boodskap: “Mag dit wat julle by Orania CVO geleer het, jou anker wees vir jou taak en roeping.”

Voorblad van Koerania - Oktober 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Oktober 2025, bladsy 3

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar