
Sedert 2020 het Theuns Wessels, die hoof van Weerbaarheid in Orania en Jeugkorps instrukteur, jongmense tussen die ouderdomme van 17 en 23 begin voorberei om patriotisme vir Orania te ontwikkel. Die Jeugkorpsprogram sluit ses naweekkampe gedurende die jaar in wat aktiwiteite soos marsjeer, noodhulp, veldkuns, skietkuns en ons ryk geskiedenis insluit. Dit is vir die instrukteurs belangrik om die Orania-idee by die jeug tuis te bring. Theuns vertel met trots wat die sukses van die program duidelik is aangesien lede gereeld na hul ervaringe, maklik en uitdagend, verwys wanneer hul daaroor uitgevra word. “Ons jongmense het begronding nodig en aangesien hulle die toekoms van Orania is, is hierdie die ideale voertuig om daardie kwaliteite en kennis oor te dra,” sê Theuns. In haar toespraak het Magdaleen Kleynhans, ‘n instrukteur, gesê: “In hierdie uitdagende opleidingsproses leer die Jeukorpsrekrute nie net om individueel uit te blink nie, maar om as ‘n onverslaanbare eenheid op te tree. Of dit nou navigasie, taktiese vaardighede of kommunikasie was, julle het nie net bestaande vaardighede verbeter nie, maar ook nuwes ontwikkel.” Ander persone wat as instrukteurs optree is Phillip Myburgh, Cobus Kirsten, Guilaume van Rensburg en Stefan Human. Die 2023 lede van die korps sal gedurende 2024, met die hulp van die Taakspan, as mentors opgelei word sodat hulle stelselmatig ‘n meer formele rol binne die program kan vervul. Op 31 Januarie om 17:30 sal daar ‘n inligtingsessie en inskrywingsgeleentheid by die Gemeenskapsveiligheidsentrum vir persone wat hierdie waardevolle program oorweeg, aangebied word. Kontak Theuns Wessels by 071 3522 754 vir meer besonderhede.





