← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Jeugkorps se presteerder: Eldien Kirsten

Eldien Kirsten is aan die einde van 2023 as ‘n lid van die Jeugkorps as top presteerder aangewys.

Eldien Kirsten is aan die einde van 2023 as ‘n lid van die Jeugkorps as top presteerder aangewys. Eldien is ‘n werkende jong dame wat balletklasse gee, ‘n afrondingskool begin het en ‘n werkende lid van ons gemeenskap is. “Ek is deur my broer, Cobus Kirsten, oortuig om deel te word van die Jeugkorps, aangesien hy die program voltooi het. Ek het dit as ‘n uitdaging gesien en ‘n geleentheid om iets nuut te leer,” vertel Eldien. Die program het haar geleer dat sy tot meer in staat is as wat sy ooit vermoed het. Die grootste les, volgens haar, was om al die nodige warm klere in ‘n sak te pas sodat sy in die middel van die winter in die veld kon slaap en oorleef. “Ek was hoogs onsuksesvol,” spot sy. Sy vertel dat sy beslis iemand sou aanbeveel om die program te volg. “As jongmense kan verstaan dat jy BUITE jou gemaksone moet leef om persoonlike groei te kan beleef, sal hulle hiervan deel word!“ Eldien voel dat die jeug in dié moderne tye moet leer dat hul slegs op God kan vertrou. “Ek het hoop vir ‘n goeie toekoms, maar meer van die jeug moet erns maak met die toestand waarin ons land is en hulself met die nodige vaardighede bemagtig om ‘n verskil te kan maak,” sê sy op ‘n ernstige noot. Haar slagspreuk: “The best time to raise dragon slayers is in a time of dragons.” Eldien sien daarna uit om uitdagings in die toekoms met meer selfvertroue aan te pak.

Voorblad van Koerania - Januarie 2024

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Januarie 2024, bladsy 6

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar