
Met die Hemelvaart van ons Here Jesus maak Hy ‘n uitspraak oor sy almagtige gesag. Dit sluit die hemel en die aarde in. Die Here Jesus het voor sy kruisiging ‘n afspraak met die dissipels gemaak dat hulle Hom op die berg ontmoet. Hulle het Hom daar gesien en Hom aanbid, maar sommiges het getwyfel. Van die dissipels het getwyfel of hulle regtig sien wat hulle sien, naamlik dat Christus lewend is en uit die dood opgestaan het. Daar staan daar in Mat 28:17-18 dat die Here Jesus nader gekom het en gesê het: “Aan My is gegee alle mag in die hemele en op die aarde.” Christene deur baie eeue het hierdie woorde van Christus ter harte geneem. Hulle het baie troos en lering daaruit geput. Ook in ons omstandighede kan vandag baie troos kry en rigting behou in stormagtige tye. God is naby Jesus Christus kom nader in hulle oomblik van twyfel. Watter wonderlike genade spreek daar nie uit nie. Die Griekse woord kan ook vertaal word met ‘benader’. God kom ons tegemoet waar ons ons ook al bevind. Die hele Bybel getuig van hierdie waarheid dat God na ons kant toe oorkom. Die belofte dat Hy sou kom as Messias in die Ou Testament, sy vleeswording en sy geboorte as mensekind, sy kruisiging en opstanding, die uitstorting van die Heilige Gees, getuig alles uit die hemel op die aarde dat God van sy kant af moeite doen om naby ons te kom. Twyfel is ‘n vorm van ongeloof, omdat dit die groot menslike “miskien” bevat. Miskien is dit soos God sê, of dalk weer miskien nie. Twyfel hink altyd op twee gedagtes: miskien is God nie soos Hy sê nie. Was die argument van dje duiwel met Eva nie juis dít nie: ‘Miskien’ kan jy God nie vertrou nie. Wanneer God sy nabyheid bekendmaak, deur sy Seun te stuur en veral deur die nabyheid van die Heilige Gees, dan klaar God self die twyfel op. God verwyder deur sy nabyheid die “miskien” uit ons lewe, asof God se Woord nie betroubaar is nie. God verwyder twyfelagtige ongeloof deur sy soewereine gesag. Daarom sê die Here Jesus: “Aan My is gegee alle mag.” God die Vader het hierdie allesomvattende mag en gesag aan sy Seun gegee. Christus is die eersgeborene van die skepping, maar ook die eersgeborene uit die dood (Kol. 1:15,18). God het geskep en Hy red diegene wie Hy skep en aan Hom behoort. Die soewereiniteit, die alleen regering van ons Here Jesus is ons troos en is ‘n kragtige wapen teen twyfel en ongeloof. Die Here alleen regeer. God is in beheer, en Hý kom nader na ons toe en kalmeer ons met sy nabyheid. Die waarheid dat alle gesag aan Jesus Christus gegee is, is die vaste fondament van ons vertroue – ook in onstuimige tye. Hierdie waarheid dat alle mag en gesag aan die Here Jesus gegee is, moet ook ons dink en doen inrig. Die duiwel, die god-los en goddelose wêreld, wil ons gedurig van iets anders oortuig. Die duiwel maak asof hy in beheer is. Daar is soveel groot kragte en magte in die wêreld, ekonomies en polities, maar bo-oor dit alles troon Jesus Christus uit. Hy het die mag in die hemele en op aarde. Wat beteken dit vir ons vandag, ook in Orania? Iemand wat leef vanuit die soewereiniteit van God raak nie verskrik en verstrik in allerlei bangmaak praatjies nie. God is in beheer, en daar sal nie ‘n haar van ons kop afval as dit nie ons hemelse Vader se wil is nie. Ons moet dus versigtig wees om in allerlei samesweringsteorieë te glo, asof God nie eintlik in beheer is nie, maar dat die wêreld deur ‘n paar mensies beheer word, soos ‘n marionet meester wat die toutjies trek om die pop te manipuleer. Die Bybel leer: die mens wik, maar God beskik. Om jou hele lewensuitkyk te baseer op ‘n teorie van geheime sameswering agter die skerms, is om die geloof in God se regering oor alles prys te gee. Die Here sal bepaal wat met ons gebeur, nie mense of duiwelse demone nie. Laat ons vashou aan die Here se belofte: as jy deur die vuur moet gaan, is Ek by jou (Jes. 43:2). Die Here se hand is nie te kort om te help nie. Dit is die basis waarop ons ook Orania se owerheid gaan verkies op 4 November 2026. Die Orania grondwet bely reguit en openlik, voor God se aangesig en al die mense: Jesus Christus is Koning – Hy regeer. Aan Hom is gegee, alle mag in die hemel en op aarde. Daarom is dit ‘n burgerplig vir Oraniërs om seker te maak dat ons ‘n owerheid instel wat na die wil van die Here vra. Ons durf nie stem voordat ons nie die aangesig van die Here ernstig in gebed opgesoek het nie. Die Here kom met sy Woord en Gees naby ons en verdryf ons twyfel en onsekerheid deur te sê: Alle mag is Myne. ‘n Christen owerheid wat dit bely en hulle wetgewing daarvolgens inrig mag reken op die Here se seëning, maar ‘n owerheid wat dit sê met die mond, maar verraai met die daad, sal die Here se treffende straf teëkom. Watter groot verpligting rus op Orania se burgerskap, omdat ons weet en bely dat alle mag aan Jesus Christus behoort. Toekoms is seker Daarom is die toekoms vir ons nie onseker nie. Ons ken die besonderhede nog nie. Wat ook al gebeur, dit kom uit ons liefdevolle Vader se hand, en aan sy regterhand sit Jesus Christus, die Koning van alle konings, en die Here van alle here, en Hy is in beheer. God regeer. Orania begeer God se regering – dit het ons met groot genade in ons grondwet opgeneem. Laat dit nou blyk dat dit nie leë woorde is nie. Die vaste fondament waarop ons die toekoms bou is die wete dat God nadergekom het en dat alle die soewereiniteit, onverdeeld, aan Hom behoort. Orania is besig om ‘n nuwe gemeenskapslewe vir die Afrikaner te vestig. ‘n Nuwe fase breek vir ons volk aan, veral deur ons arbeidsbeleid wat die owerheid heilig oor moet waak. Dit is tot getuienis van al ons mede-Afrikaners en ons kinders wat nà ons kom. Laat die kalm krag van God se nabyheid ons getuienis kenmerk. Laat vriend en vyand sê: Die mense van Orania glo en wys dat God alleen regeer.




