
Dantél Oosthuizen, 'n 35-jarige fiksheidsentoesias van Orania, bewys dat ouderdom slegs 'n nommer is wanneer passie en dissipline bymekaarkom. Haar toewyding aan haar oefen- en eetplanne het vrugte afgewerp, en onlangs het sy 'n indrukwekkende derde plek in die Bikiniafdeling van die Wêreld Fiksheidsfederasie (WFF) se Suid-Afrikaanse kampioenskappe in De Aar behaal. Wat hierdie prestasie so besonders maak, is dat Dantél die enigste inskrywing in haar ouderdomsgroep was. Die organiseerders het haar toe oorreed om teen die veel jonger deelnemers deel te neem, 'n uitdaging wat sy met grasie en vasberadenheid aangepak het.
Volgens haar is die kompetisie vir ouer deelnemers heelwat moeiliker, aangesien jonger deelnemers 'n vinniger metabolisme het, nie rekmerke van swangerskappe het nie, en makliker spiermassa opbou. Die feit dat sy bo 30 was in die afdeling vir 18 tot 24's waarin sy deelgeneem het, met sowat agt deelnemers per afdeling, spreek boekdele van haar sukses. “Ek het geleer om nie so bekommerd te wees as ek op die verhoog klim nie, want almal het ewe hard gewerk en al word jy nie vir die top drie gekies nie is dit steeds 'n prestasie om daar te wees,” deel sy. Sy het 'n 6de plek in die Miss Glamourafdeling behaal. Die wêreld van fiksheidskompetisies is nie vir sussies nie. Benewens die intense fisieke voorbereiding, is dit 'n duur sport. Affiliasie, registrasie per afdeling, en die koste van klere, grimering en die "tan" (verf) kan 'n deelnemer laat opdok. Dantél het egter geleer om sommige van die koste te besnoei deur self sekere dinge soos naels en wimpers te doen. Haar prestasies is 'n bewys van haar vasberadenheid, nie net in die gimnasium nie, maar ook in die bestuur van die finansiële aspek van die sport. Haar voorbereidings is intens. Sy berei slegs drie maande voor 'n kompetisie met 'n streng eetprogram wat haar help om gewig te verloor sonder om spiermassa in te boet. Die laaste week, of "piekweek" voor 'n kompetisie, is die mees uitdagende, waar sy 70% van haar stysels uitsny en baie water drink. Haar grootste plesiertjie, die biltongwrap by 'n bekende eetplek, moet dan vir 'n rukkie wag. Dantél, wat ook haar kwalifikasie as persoonlike afrigter en voedingkundige verwerf het, wil nou haar kennis met ander deel. Sy is van plan om aanlynklasse te begin, waar sy mense kan help om hul eie unieke fiksheidsdoelwitte te bereik. Haar persoonlike ervaring het haar geleer dat elke persoon se liggaam uniek is en dat 'n mens jou eie liggaam se reaksies die beste ken. Sy wil mense die kundigheid gee om selfvertroue te bou en gesonder te leef. Dantél se man, Adolf, is haar grootste steunpilaar. Hy stap die pad saam met haar, deel haar vreugdes en ondersteun haar deur die moeilike tye. Hy is die een wat haar sosiale media plasings hanteer en is ongelooflik trots op haar. Sy ouers is gedissiplineerd en glo in 'n gesonde liggaam, en het hierdie ingesteldheid aan hom oorgedra. Hy spot en sê dat hy nie jaloers is wanneer Dantél op die verhoog klim nie, want hy weet sy gaan saam met hom huistoe. Sy is dankbaar vir die vroue wat by haar oefen se ondersteuning en is trots op wat hulle elkeen op 'n persoonlike vlak bereik. Dantél berei tans voor vir die Zambiëkampioenskappe in November en het reeds haar oog op verdere kompetisies daarna. Haar boodskap is duidelik: Jy kan! "Jy hoef nie te weet hoe nie, jy moet net wil," sê sy. Haar sukses is 'n inspirasie vir almal wat glo dat dit nooit te laat is om jou drome na te jaag nie, en dat harde werk altyd vrugte afwerp.





