
Mariette Wiggill 7 September 1969 - 1 Januarie 2026
Meraai het altyd, al was sy hoe haastig, tyd gemaak om ‘n geselsie aan te knoop en iemand spesiaal te laat voel. So vandag wil ek, haar sussie, graag vir haar dit teruggee. Meraaikie was my “tweeling sussie”, my sussie-kind, my oudste sussie, my maatjie en my skaduwee. Ons het mekaar elke dag gesien, soms meer kere op ‘n dag, en elke dag op die foon gepraat. As ek nie vinnig genoeg reageer op haar whatsapp nie, het sy sommer musiekklas toe gekom om my die vraag te kom vra, al was dit net watter kleur sy op haar naels moet sit. Meraai was ook baie geheg aan Thea, of Thaisy soos sy haar genoem het. Ons sussies het werklik baie pret gehad, en Meraai sou ons 2 vinnig op ons plek sit deur ons te herinner dat sy die oudste is. Sy was lief vir ‘n whatsapp, ‘n foto en ‘n groot glimlag. Sy was so getrou om seker te maak sy weet wat in Thaisy en die kinders se lewens aangaan, en tot ons groot vermaak het sy die vermoë gehad om alles 3x te herhaal om haar punt te maak. Sy het ons altyd lekker laat lag. Meraaitjie was ‘n skoonsuster vir Sarel. Haar gunsteling swaer, soos sy hom genoem het. Sy het die hoogste agting en respek vir hom gehad. Meraai en Sarel het so unieke verhouding gehad, en sy was blind lojaal en lief vir Sarel. Sy sou ook vinnig aan Sarel raporteer indien ek parmantig was met haar. Meraaitjie was ‘n tannie vir 5 kinders. Josua is die oudste en sy het die ereplek as peetma gekry. Sy het met groot selfvertroue met hom n Engels gepraat want hy bly mos in Engeland. Met soveel liefde het sy elke een van hulle bederf met gehekelde kombersies en geskenkies. Ons kinders was haar kinders, en sy was so trots op hulle almal. Meraai was ‘n vrou vir Gavin, hulle was 18 jaar getroud. Hulle was kêrel en meisie van hul kinderjare af. Mariette was oneindig lief vir Gavin, en sy was altyd so trots op al sy maratons. Sy was sy grootste aanhanger en motiveerder. Sy het Gavin se woord aanvaar want sy was onderdanig aan hom, alhoewel ons weet sy sou nie ophou kerm het om tog maar sy kop te swaai nie. Mariette het elke aand vir haar en Gavin bybel gelees en vir almal gebid, elkeen by die naam. Sy was ook die oudste dogter en my ouers eer haar dat sy altyd dankbaarheid getoon het, sy wou altyd iets vir iemand anders doen. Sy’t dit gesê soos sy dit gesien het. Haar geloof was vir haar verskriklik belangrik, en sy sou altyd diensbaar wees. Sy het die Here daagliks gedien. Mariette was ‘n vriendin vir baie. En vandag wil ek vir elkeen wat haar vriendin was, wat vir haar lief was, wat haar spesiaal laat voel het, wat vir haar omgegee het, en wat haar aanvaar het sê BAIE DANKIE. Julle liefde en aanvaarding en verstaan het ons as gesin se taak soveel ligter gemaak. Julle het bygedra tot haar groot liefdevolle glimlag, en ek sal julle altyd daarvoor eer.




