In Orania is werk nie 'n vloek nie- dis 'n roeping. En as daar nog nie 'n besigheid is nie, dan begin ons een. Of vyf... Tans is daar vyf slaghuise op die dorp. Dit beteken jy kan in een straat wors koop vir jou braai, in die volgende straat wors vir jou hond, en 'n blok verder- wors vir die siel. Elkeen het sy eie styl: die een gebruik net skaapvet, die ander een net Gert se bees. Die derde het “visionêre Jan-braaikonsepte” (en sit 'n veer in jou biltong). Dis vryemark-kapitalisme met 'n kerkbasaargees.
Selfs Frank Opperman, Ouboet van Orkney Snork Nie, het onlangs in Orania gedraai. Toe hy daai vyf slaghuise sien, kon Wynvlieg sweer hy't vir homself gefluister: "Poeksie Woeksie se Worsie Wapsie is nou lus!". Want dis presies hoe dit voel as jy deur 'n dorp stap waar daar by elke paar deure 'n aroma van boerewors en selfvertroue uitblaas. Maar dis nie net die vleis nie. Dis kafees, ateljees, gastehuise, herverkopers en kleinhandelagente alles met oorgawe. Want sien, in Orania is “ek's besig” 'n gees, nie net 'n ontvlugting nie. En dit werk. Die dorp blom. Daar's werklik sukses. Maar soms ruk dit bietjie handuit. Soos met die nuus dat 'n Paul Kruger-standbeeld replika opgerig gaan word. Nie 'n pop nie. Nie 'n muurtjie nie. 'n Pure Afrikaner standbeeld. Wynvlieg verstaan- die man het 'n baard, historiese waarde en simboliek. Maar maar die tannies nog pannekoek verkoop om 'n nuwe klaskamer te bou, dan voel 'n ses-voetbronsbaard dalk 'n bietjie vooruit op die plan. 'n Leser het gevra: “Hoekom bou ons 'n Kruger as almal hom reeds op hul mure het? Bou ons vir ons helde of vir ons ego?” Die antwoord lê dalk êrens tussen vleis en visie. In Orania bou ons. Dis mooi. Dis nodig. Maar soms, in die gejaag om ons toekoms self te vorm, vergeet ons om te vra of ons mekaar nie dalk al klaar verkoop het nie. Ek's Wynvlieg Woltemade. Ek sit bo-op die worspapier, en ek's nie te koop nie, maar ek hou jou dop.




