← Gemeenskap

· Deur Rikus van Staden

Hendrik Johannes Erasmus “Kierie” Coetzee

Kierie soos ons hom almal geken het, was nie net my kollega die afgelope 17 jaar nie, maar ‘n broer in christus en ware vriend.

Hendrik Johannes Erasmus “Kierie” Coetzee – foto 1

10 Augustus 1982 - 3 September 2026

Met ‘n swaar hart, maar ook ‘n hart wat gevul is met dankbaarheid – dankbaarheid vir ‘n lewe wat ryk was aan liefde, geloof en ook groot betekenis, dink ek aan “Kierie”. Kierie soos ons hom almal geken het, was nie net my kollega die afgelope 17 jaar nie, maar ‘n broer in christus en ware vriend. Deur al die jare het ons saam gewerk, gelag, uitdagings aangepak – en ook gebid. Kierie was ‘n man van karakter. Wat jy gesien het was wat jy gekry het: eerlik, lojaal, met ‘n hart wat diep omgee. Hy het sy rol as eggenoot en pa met trots en sagtheid gedra. Sy liefde vir sy vrou christie en hul 3 dierbare kinders – amore / amira / simeon – was sigbaar in als wat hy gedoen het. Hulle was sy wereld. So ook raymond en adrika sy kinders uit ‘n vorige huwelik. Ten spyte van sy stryd teen kanker, het “Kierie” se geloof nie gewankel nie. Selfs toe sy liggaam verswak het, het sy gees sterk gebly. Saam het ons gebid vir ‘n wonderwerk en saam vasgehou aan “God” se beloftes. Want ons weet dat ons hoop nie net in genesing hier op aarde le nie, maar in die ewige lewe wat christus ons belowe het. Romeine 8 herinner ons: “want ons is oortuig dat geen dood of lewe …. Of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van “God” wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” Kierie het daardie waarheid geleef. Sy lewe getuig van ‘n man wat God vertrou het, selfs wanneer hy nie al die antwoorde gehad het nie. As vriende en familie voel ons die verlies diep. Maar ons treur nie soos mense sonder hoop nie. Ons weet dat ons God ‘n God van trou is. Ons weet dat hy naby is aan die wat gebroke van hart is. En ons weet dat Kierie se nalatenskap voortleef - in sy kinders, sy huwelik, sy werk, en in elke lewe wat hy aangeraak het. My vriend, my broer. Dankie vir die 17 jaar se kameraadskap, jou getrouheid, gebede, gelag en die voorbeeld jy vir my was. Jy het my lewe ryker gemaak. 2 Tim 4:7 beskryf jou hele lewe: jy het die goeie stryd gestry, jy het die wedloop voltooi, jy het die geloof behou. Mag ons almal hierdie wedloop met dieselfde geloof en vasberadenheid as jy, voltooi. Tot ons weer ontmoet my maat.

Voorblad van Koerania - September 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2026, bladsy 3

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar