Maak heilige koeie die beste burgers? Ek praat nie van daardie Amerikaanse maalvleiskoekies wat hulle “braai” nie, maar van ons eie burgers, daardie dierbare mense wat op 4 November gaan besluit wie die volgende agt stoele in die “Burgerraad” warm gaan sit. Twaalf kandidate vir agt heilige plekke in die Orania Verteenwoordigende Raad. Vier gaan noodwendig met troospryse huis toe. Maar moenie bekommerd wees nie. In Orania beteken leë hande nie noodwendig stil bekke nie. Die steunwerwing is reeds in volle swang. Ek sit langs stoepe en luister hoe daar gefluister word en met groot erns verduidelik word wie nou eintlik die regte persoon vir die werk is. Erg Afrikaner: party mense staan self op. Ander staan gemaklik agter hulle, waar hulle in die oor kan fluister sonder om self die hitte van die braaivleisvuur te ervaar. En elkeen het natuurlik die beste belange van die gemeenskap op die hart, alhoewel dit merkwaardig is hoe gereeld die “gemeenskap se belange” presies saamval met 'n mens se eie oortuigings. Maar hierdie agt heilige burgers gaan nie bloot hande skud en notules goedkeur nie. Vir hulle wag daar 'n groter taak: om die nuwe Oraniagrondwet te bewerk. Agt mense gaan moet help besluit hoe ons onsself vorentoe bestuur, watter beginsels ons beskerm en hoe ons ons toekoms inrig. Geen druk nie. Dis darem maar net die grondwet... En soos enige goeie Afrikaner weet, is daar min dinge wat mense so aan die praat kry soos reëls waarvolgens almal anders moet leef. Elkeen het 'n beginsel, 'n voorbehoud en 'n tannie wat presies weet hoe die stigtersvaders dit bedoel het. Só werk demokrasie. Jy bring jou standpunt, jou voorkeurkandidaat en, indien nodig, 'n vriend wat jou standpunt harder stel. Daarna hoop jy die res van die burgers sien die lig. Indien nie, was jou lig seker nie heilig genoeg nie. Op 4 November stem Orania, dieselfde dag as Suid-Afrika se tussenverkiesings. Toeval of nie, ons gaan ook ontdek dat demokrasie 'n wonderlike ding is... veral wanneer mense stem soos jy gehoop het hulle sou. Maar hier is die ding met heilige koeie: almal het een, en niemand hou daarvan as iemand anders aan syne raak nie. Miskien moet ons kyk of ons heilige burgers ook die gewig van 'n grondwet kan dra. Ek hou intussen my ore oop, nie om te hoor wie die hardste praat nie, maar wie uiteindelik die vertroue van die burgers kry. Ek is Wynvlieg Woltemade en weet net een ding: twaalf kandidate kan staan, agt kan sit, en die res kan slegs raad gee.
· Deur Wynvlieg Woltemade
Heilige Burgers?
Vier gaan noodwendig met troospryse huis toe.

Uit die koerant
Hierdie berig het verskyn in Koerania – Oktober 2026, bladsy 2
Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar


