← Kultuur

· Deur Koerania-redaksie

Grensloos saam met Wilna

Die verhaal van Sabien speel in Botswana af en betrek 'n bush pilot asook uitsonderlike spoorsnyers.

Grensloos saam met Wilna – foto 1

Tydens 'n gesellige boekbekendstelling het Christa Steyn Bezuidenhout van Maroela Media met die bekende skrywer Wilna Adriaanse gesels oor haar nuutste spanningsroman, Grensloos. Die verhaal van Sabien speel in Botswana af en betrek 'n bush pilot asook uitsonderlike spoorsnyers. Hoewel dit 'n spanningsroman is, verken dit ook verlies, vertroue en tweede kanse. Die gehoor het heerlik gelag toe Wilna vertel van die skrywerslewe en vreemde internet-soektogte. Sy het skertsend opgemerk dat die “polisie skrywers sal toesluit indien hul toegang sou kry tot hul soekgeskiedenis op rekenaar,” soos wanneer 'n mens soek na “hoe vermoor jy iemand met ‘n pomelo…” of “hoe skiet jy na iemand dat jy hom of haar in die been tref.” Oor die uitbeelding van geweld skryf sy egter met groot omsigtigheid. Sy noem dat “dit neem ‘n paar dae om deur geweld te skryf, want dit kan nie net skokeffek wees nie. Dit moet deel van die storie wees... Dit moet integraal deel van die storie vorm.” Om die balans te behou, bou sy ook ligter oomblikke in, want “iemand moet tussenin asem kan skep, en ek ook.” Die titel verwys na verskeie grense — van taal en demografie tot reg en verkeerd. Wilna verduidelik: “Ek hou van die idee dat Sabien op middelgrond speel. Haar reg en verkeerd is nie vreeslike teenpole nie, maar ons kan soms donker kante hê, maar is meer as een dimensioneel.” Uiteindelik streef Wilna na egtheid: “Ek kan nie vir ‘n spesifieke teikengehoor skryf nie. Ek wil met integriteit skryf en nie foefies gebruik om ‘n storie te vertel nie. Ek hoop karakters kom so deur dat mense so iemand in hul eie lewens kan eien.”

Voorblad van Koerania -Augustus 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Augustus 2026, bladsy 10

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar