
Die visie is om ‘n volhoubare sentrum en tuiste vir persone wat met verstandelike en ander verwante gestremdheid leef, in Orania op te rig. Dit is die woorde van Renska Deetlefs, die sameroeper van die tweede VellieVoeteFees wat op Vrydag 9 Mei deur die Forum vir Gestremdes aangebied word. Renska, wat self die pad as ouer met gestremde kinders stap, weet hoe belangrik dit is dat meer geleenthede geskep word waar gestremdes kan sosialiseer en interaksie met mekaar kan hê. “Ons moet mekaar leer ken en omarm sodat ons elkeen se unieke behoeftes en uitdagings kan verstaan en saam aan oplossings werk,” vertel Renska, voorsitter van die forum. Daar is in 2024 ‘n suksesvolle inligtingsessie in verband met outisme aangebied en daar word beplan om dit op te volg met ‘n opleidingskursus waar ‘n fasiliteerder as versorger van outistiese persone opgelei word.
“Persone wat met ‘n gestremdheid leef en hulle families het ‘n gemeenskap nodig wat gestremdheid verstaan en saam daaroor kan praat.” “2024 se VellieVoeteFees was so ‘n besonderse geleentheid dat die komitee oorweldig gevoel het as gevolg van die getalle, maar ook die gees en atmosfeer wat deurentyd geheers het,” deel Renska. Skud jou vere reg en neem deel aan die 2025 feestelikheid! Elkeen se bydra en deelname is druppeltjies van seën wat ons nader bring aan die Sentrum-droom vir persone wat leef met intellektueel- en verwante gestremdhede - ‘n kwesbare deel van ons gemeenskap. Koop jou plakker en deel in die pret sodat bewustheid oor gestremdheid met korrekte inligting gedeel kan word. Vir enige navrae, verdere inligting of om ‘n bydrae te maak kan Renska by 083 557 2236 of vvf@gestremdesorania.co.za gekontak word.






