← Gemeenskap

· Deur Christiaan van Zyl

Gegroet, maar nie vergete!

Om totsiens te sê vir 'n lewende legende kan 'n baie formele aangeleentheid wees.

Mevrou Johanna Pohl (94), ‘n gewaardeerde Oraniër.
Mevrou Johanna Pohl (94), ‘n gewaardeerde Oraniër.

Om totsiens te sê vir 'n lewende legende kan 'n baie formele aangeleentheid wees. Ons het egter besluit om Tannie Johanna Pohl te verras met 'n basaarpoeding (waarvoor sy baie lief is) ná Karoosig Aftreeoord se aandete op Maandag 21 September. Hier het sy 'n hele klomp jare gewoon na sy huis opgegee het in Phillipolis. Tannie Johanna, weduwee van die bekende komponis en radiopersoonlikheid, Jan Pohl, is in eie reg steeds 'n taalvegter en kultuurmens ondanks haar ouderdom. Menige Afrikaanse sanger wat op Orania kom optree het, is ontbied vir 'n gesprek oor

'n beker koffie of tee. Familie is uitgelê, volksake is aangeroer en oom Jan se liedjies is bespreek. Orania Kunsteraad (OKeR) se ensemble het spesiaal vir die bejaardes en tannie Johanna 'n paar Jan Pohl liedjies gespeel. Sy het 'n bundel van oom Jan se liedjies en sy Kleinreus-toekenning aan die Bewaringstigting oorhandig vir veilige bewaring in die museum om saam met oom Jan se hoed daar uitgestal word. Joost Strydom het namens Orania Beweging vir tannie Johanna 'n Kleinreus-lapelwapen oorhandig om met trots te dra by haar nuwe tuiste.

Anje Boshoff het 'n bos proteas namens OKeR oorhandig en dr. Carel Boshoff (IV) het haar namens alle Oraniërs bedank vir haar lewendige bydrae op vele terreine van ons strewe. Laastens het tannie Minnie Strydom namens die Hervormde lidmate 'n geskenkpakkie aan haar oorhandig. Al die verteenwoordigers van gemelde organisasies het gesorg vir 'n verskeidenheid nageregte wat deurmekaar opgeskep is in die tradisie van basaarpoedings. Totsiens tannie Johanna, ons gaan tannie se teenwoordigheid mis!

Voorblad van Koerania - Oktober 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Oktober 2026, bladsy 3

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar