← Gemeenskap

· Deur dr Wikus Buys

Gebou as lewende stene op Christus, die hoeksteen – Januarie 2026

“Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.”

Gebou as lewende stene op Christus, die hoeksteen
Gebou as lewende stene op Christus, die hoeksteen

“Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.” 1 Pet. 2:6 Wat ‘n wonderlike belofte: wie in Christus glo, sal nooit daaroor hoef skaam te kry nie. God se beloftes is vas en seker in Jesus Christus. Die Bybel verduidelik hierdie kernbelofte met die beeld van ‘n gebou, die tempel. Die tempel is die gebou waar die heerlikheid van die Here op die aarde teenwoordig was voor die koms van Christus. Hierdie gebou wys eintlik simbolies daarop dat God by sy kinders op aarde wil woon. Dit is ook in die Bybel so verkondig voordat Christus gebore is. Daarom staan in die vorige vers ook dat gelowiges ‘n geestelike huis is, wat as lewende stene opgebou word. Wat maak hierdie stene lewend? Dit is omdat hulle op die kosbare hoeksteen self gebou is. Die Skrif dui duidelik aan dat die Here Jesus Christus hierdie hoeksteen is. Die apostel Paulus verkondig in Efes. 2:19-20: “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is.” Toets Hierdie hoeksteen is waar die hele gebou se eenheid bymekaar kom. Die hoeksteen bepaal hoe en waar die ander stene moet inpas om die hele gebou sy doel te laat bereik. Christen gelowiges het hierdie troos en verpligting met hulle hele lewe. God stuur sy eie Seun as hoeksteen vir die gebou waarin Hy wil woon. Deur die inwoning van die Heilige Gees en deur geloof word ons verbind aan die hoeksteen, Jesus Christus. Ons lewens pas in by Hom, die hoeksteen self. Dit bring ook die ernstige verpligting mee, dat ons gedurig getoets word of ons lewens wel by die hoeksteen pas. Weg en los van die hoeksteen is daar geen eenheid of vastigheid nie. Trouens, die Skrif leer duidelik dat daar mense is wat nie net aanstoot neem aan die hoeksteen nie, maar wat hulleself ook verniel deur teen die hoeksteen te stamp. Vir baie mense is Jesus Christus ‘n steen van aanstoot. Jesus Christus is die Hoof van alle dinge, en as sodanig het Hy ook as die Hoof van die gemeente, sy liggaam gegee. Daar is maar een, enige hoeksteen. God bou self. God bou sy eie huis. Hy gee die bouplan. Hy is die argitek en die bouaannemer. Sy huis word reg gebou, dit word gerig en bepaal deur die hoeksteen. Hierdie feit moet ons hele lewe kenmerk - in ons persoonlike lewe, in ons huwelike, in die skole, in die gemeentelewe, in die burgerlike lewe, waar ook al. Ons moet lewende stene in die gebou van God wees wat Hy oprig vanuit sy hoeksteen, Jesus Christus. Christelike burgerskap. In die burgerlike lewe strewe ons vanuit Orania sterk na die daarstelling van ons eie Christelike Afrikaner republiek. Dit is ‘n diep begeerte en ‘n hoë en heilige opgawe. Ons mag dit nooit doen sonder Jesus Christus, die hoeksteen nie. Indien ons so iets sou waag, sal Jesus Christus self vir ons ‘n struikelblok word waaroor ons sal val en vernietig word. Ons mag nooit toelaat dat die aandag in ons gemeenskap weggetrek word vanaf ons hoeksteen nie. ‘n Volk sonder Christus, is ‘n volk sonder ‘n toekoms. Wat ‘n genade dat Orania Jesus Christus as hoeksteen mag en wil bely, as dié lewende steen van alle bouwerk, fisies en geestelik. Ons word as lewende stene gebou op Christus, die enigste hoeksteen. Wat ‘n voorreg, maar ook wat ‘n verantwoordelikheid is dit nie op ons almal nie. In ons strewe na ‘n eie republiek moet een ding voorop staan: dat ons die bouplan volg na die hoeksteen se mate. Hierdie waarheid het baie gevolge. Dis immers ‘n gewetensaak voor God. Ons wil ‘n stad en streek en uiteindelik ‘n staat opbou, geestelik, ekonomies, grondwetlik, kultureel, polities, militêr, opvoedkundig, noem maar op. In dit alles is daar net een hoeksteen: Jesus Christus. By Hom kom die paaie bymekaar, maar sonder Hom gaan die paaie ook uitmekaar. In Hom hoef ons ons nooit te skaam nie. Mag 2026 vir ons as Oraniërs ‘n nuwe jaar van hoop en verwagting wees, ‘n jaar vol opwinding en afwagting, vol werk én rus, omdat ons weet Wie ons hoeksteen is.

Voorblad van Koerania - Januarie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Januarie 2026, bladsy 9

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar