← Sport

· Deur Koerania-redaksie

Fiksheid in bikini's bring vir Dantél sukses

Die Wêreld Fiksheidsfederasie van Suid-Afrika het die Noord-Kaap se uitdunne op 14 Junie in De Aar aangebied.

Fiksheid in bikini's bring vir Dantél sukses – foto 1

Die Wêreld Fiksheidsfederasie van Suid-Afrika het die Noord-Kaap se uitdunne op 14 Junie in De Aar aangebied. Dantél Oosthuizen het reeds die afgelope twee jaar aan haar voorbereiding vir die suksesvolle deelname vanjaar gewerk. Sy het tydens die WFF Classic die eerste plek in die o/30 Bikiniafdeling behaal en 'n tweede plek as Fiksheidsmodel behaal. Dantél moes teen 17 tot 25 jariges in die fiksheidsafdeling meeding, aangesien daar nie inskrywings in haar eie ouderdomsgroep was nie. Sy is tydens dié uitdaging gekies om op 30 Augustus 2025 aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deel te neem. 'n Nog groter oorwinning is dat sy later vanjaar aan die Wêreldkampioenskappe in Maleisië kan gaan deelneem, asook aan die Afrikakampioenskappe in Zambië. ”As dit die Here se wil is en ek genoeg donasies kan insamel, sal ek graag ten minste een van hierdie besondere geleenthede wil aanpak.” Sy vertel: “Ek het die afgelope jaar ongelooflik hard gewerk om my liggaamlike doelwitte te bereik en uiteindelik op die verhoog te kon staan as deelnemer in die WFF se kompetisies. Ek het 'n streng eetplan gevolg, twee keer per dag geoefen en my liggaam deurlopend ondersteun deur genoeg water in te neem. Elke dag se opoffering en selfdissipline het uiteindelik vrugte afgewerp.” Dantél is tans besig met haar nuwe eet- en oefenprogram en is besonder trots daarop dat sy haarself afrig. “Dit maak soms die pad effens moeiliker, maar soveel meer lonend,” sê die fikse vrou. Sy is diep dankbaar vir haar man, Arnold, se liefde, motovering en ondersteuning deur die uitdagende tye wanneer sy moet oefen, 'n eetplan moet volg en deelneem. Haar ouers is haar ander groot ondersteuning wanneer hulle 3 kinders versorg moet word terwyl mamma haar drome najaag.

“Ek hoop werklik dat ek met alles wat ek doen, 'n inspirasie vir iemand kan wees, want dit is nooit te laat om jou drome te volg nie,” sluit sy dapper af.

Fiksheid in bikini's bring vir Dantél sukses – foto 2
Voorblad van Koerania - Julie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Julie 2025, bladsy 10

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar