
dr Wikus Buys Die brief van die apostel Paulus bevat ‘n bevel om met jou eie hande te werk. So skryf Paulus in 1 Tess. 4:11-12: “ ... en julle eer daarin stel om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het, sodat julle welvoeglik kan wandel teenoor die wat buite is, en aan niks behoefte mag hê nie”. Ons weet dat Paulus self die voorbeeld gestel het deurdat hy tente vervaardig het as beroep. Tog het ons hier nie maar net te make met die sogenaamde ‘tentmakerbeginsel’ waarvolgens sendelinge en Woordbedienaars selfonderhoudend is om hulle bedieningswerk te kan uitvoer nie. Paulus, Silvȧnus en Timotheüs rig hierdie evangeliese boodskap aan die gemeente in Thessalonika, en dus aan alle ware Christelike gemeentes. Ons het hier met die inrigting van ‘n lewensreël vir ‘n Christelike lewe te doen. Hierdie ‘eie-hande-werk’ lewensreël val nie sommer uit die lug nie. Ons lig twee sake uit: Ten eerste die siening van werk soos wat die heidene van daardie tyd dit verstaan het. Tweedens dan ook die liefdesbasis waarop die eie-hande-werk reël berus. Werk gesien as slawediens Die ongelowiges word hier deur Paulus genoem ‘die wat buite is’. Dit is belangrik dat Christene altyd bewus sal wees van hierdie punt: wat sê ander mense van God oor dit wat ons doen of nalaat om te doen. Orania is selfverklarend in Christelike gemeenskap. Hier is baie Christelike gemeentes, maar die hele dorp, stads- en streeksontwikkeling wil ons doen met die bakenlig van ons belydenis: Jesus Christus is Koning. Die oë van almal, selfs soos ons weet vanaf die buiteland, is op ons.
Sekerlik is nie al die oë wat na ons kyk, mede-Christene nie. Daar is beslis ook baie ‘wat buite’ die geloofsgemeenskap is, en waarneem wat ons hier doen. Sommige van die oë is vol haat en nyd, ander is nuuskierig en van hulle is vriendelik en leergierig. Hoe dit ook al is, ‘n Christen moet bedag wees daarop dat sy optrede ‘n getuienis is oor wie God is. Dit kan mense ‘wat buite’ is afstoot of aantrek. Ons taak op die aarde is om die eer en Naam van ons Here Jesus Christus groot te maak. In Paulus se tyd het die heidene, die wat buite die geloof in Christus is, die samelewing oorheers. Hulle het ‘n bepaalde siening van arbeid gehad. Die bekende Griekse filosoof Aristoteles, is baie bekend daarvoor dat hy sou gesê het dat werk net vir slawe en vroue is. ‘n Vry man, ‘n burger van ‘n stad, moet hom besig hou met die dieper dinge van die lewe en nadink oor wat waar en reg is. Kortliks kom dit daarop neer dat harde, hande werk basies maar slawe-werk is, en dat dit nie gedoen kan word deur iemand wat vry is nie. Vryheid is vir iemand wat nie hoef te werk nie. Sonder om ‘n een op een vergelyking te tref, sou ons raaksien dat baie Afrikaners vandag nog oorkant die rivier, eintlik nog steeds hierdie ou Griekse siening van werk het. Werk is swaarkry, en vryheid is om los van swaar werk te wees. Werk is vir bediendes en slawe. In hierdie klimaat is Paulus se oproep om met jou eie hande te werk, vars en nuut. Hy stel verder dat ‘n Christen rustig moet lewe, dit beteken ook dat jy jou nie onnodig indringerig met iemand anders se sake moet inmeng nie. Verder stel hy dat ‘n Christen sy ‘eie sake moet behartig’. Dit beteken om in die gewoonte te leef om gedurig daarop ingestel te wees om deur ‘n konstante daad iets tot stand te bring. Werk gesien as liefdesdiens Paulus gee die basis waarop hy hierdie Christelike lewensreël van ‘eie-hande-werk’ stel. Dit staan in 1 Tes. 4:9 waar dit oor die liefde gaan: “Oor die broederliefde het julle nie nodig dat ons julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê”. Die band met God bring mee dat mens jou band met ander mense in ‘n nuwe lig sien. Liefde tot God vereis liefde tot jou medemens. Die Heilige Gees openbaar hier deur Paulus ‘n wonderbaarlike insig aan ons: om met jou eie hande te werk, is ten diepste en ten eerste ‘n liefdesdaad teenoor jou medemens. Laat ons dit bedink en as gewoonte in ons lewe op Orania aankweek. As mense, van binne die Christendom of daar buite, vir ons vra: waarom werk julle self? Laat ons dat antwoord met die woorde van Paulus: God het ons die liefde geleer, liefde vir Hom en ons medemens. Ons werk self uit liefde vir ons naaste, want deur dit te doen word ons nie ‘n las vir ander mense nie. Deur met ons eie hande te werk het ons dan ook iets om vir die armes te gee, die weerloses, die bejaardes en die gestremdes wat nie altyd meer kan werk nie (2. Kor. 9:12). Die diepste beginsel van selfwerksaamheid is naasteliefde wat gebore word uit Godsliefde. Hoe wonderlik dat ons as Orania, as wordende stad en groeiende streek hierdie beginsel ons eie maak. Laat dít ons kompas bly deur met ons eie hande te werk omdat ons die liefde van God leer ken het en dat ons daardie liefde – werkbaar – as getuienis van ons dankbaarheidsgeloof vir almal laat sien en ervaar.




