
Lourens en Kaylin Erasmus kry tans warm waar hulle in Hazlehurst, ‘n klein dorpie wat ongeveer 3 ure se ry van Atlanta af en 2.5 ure van Jacksonville af geleë is. Hulle bevind hulle in die staat Georgia in die VSA, en gelukkig nogal naby die see. Lourens het ‘n 10 maande werkspermit gekry om op ‘n plaas, waar hulle tans mielies plant, te arbei. Kaylin vertel dat daar op dié plaas katoen en grondboontjies ook geplant word. “Lourens verlaat in die donker die huis en keer in die nag weer baie vuil terug van die lande af,” deel vroulief. Daar word instandhouding van Bloubessieboompies bykomend op die plaas gedoen. Dié egpaar sal na die tien maande besluit of hulle dalk die Amerikaanse winter ook wil trotseer en sodoende ‘n bietjie langer aanbly. Kaylin kry nou die geleentheid om Lourens te versorg en maak seker die huishouding se sake verloop vlot. Sy is beslis nie verveeld nie, want sy vertel reeds dat die dorp baie aktiwiteite vir individue of groepe bied waarby sy reeds betrokke geraak het. “Ek gaan gereeld, veral Saterdae, saam met Lourens werk toe, veral as hy beplan om heeldag in die trekker deur te bring. Ek het my sitplek langs hom,” vertel sy opgewonde. Wanneer Kaylin tuis bly geniet sy dit om die plaaslike biblioteek, wat loopafstand van hulle huis is, te besoek. Sy vertel van die weekliks kreatiewe aktiwiteite wat hulle gratis aan kan deelneem. Die damesoggende by hulle kerk geniet sy wanneer daar gassprekers optree wat interessante onderwerpe bespreek. “Dan is daar natuurlik winkels soos Wallmart, waar ek vir lank kan rondstap en alles bekyk…” kan sy nie help om te vertel nie. Die jong vrou was in 2021/2022 ‘n au-pair in New York en geniet die plaaslike mense van hulle huidige tuiste se southern charm en vriendelikheid geweldig. Kaylin se hoogtepunt van elke dag is beslis wanneer Lourens tuiskom en van sy dag vertel. Aangesien hy in 2023 alleen in Amerika was en Kaylin in Suid-Afrika agterbly het, benut hulle elke beskikbare oomblik saam. “Ons is baie dankbaar dat die Vader dit moontlik gemaak het dat ek dié jaar kon saamkom,” sê sy met ‘n glimlag.





