← Gemeenskap

· Deur Dia van Staden

DKW's brom en brul ywerig voort

Vroeg dié maand het die DKW-klub van Suid-Afrika 'n rit van oraloor na Orania onderneem.

DKW's brom en brul ywerig voort – foto 4

Vroeg dié maand het die DKW-klub van Suid-Afrika 'n rit van oraloor na Orania onderneem. Pieter Botha, voorsitter van die Suid-Afrikaanse DKW-klub het met Koerania gesels oor die samestelling en aktiwiteite van die klub. Pieter vertel dat August Horg in 1921 die Horg motormaatskappy begin, maar in Duits beteken Horg “hoor”. Jare later moes hy weer 'n naam vir sy nuwe motormaatskappy kies en Latyn vir Horg is Audi, wat “hoor” beteken. In 1932, tydens die depressie, was die maatskappye gedwing om saam te werk en daar is Auto Union gebore. Wanneer iemand 'n ligte karretjie wou koop was dit 'n DKW en as iemand 'n super luukse voertuig wou koop was dit die Horg. In 1953 het die Auto Union fabriek weer uit die as opgestaan. Daar was nie geld vir al die luukse karre na die oorlog nie. Die Auto Union, bekend as die skilpadkarretjie, was goed gebou, ekonomies en maklik om te onderhou. In 1964 koop Volkswagen die Auto Union maatskappy oor, haal die Auto Union naam af en vervang dit met die naam Audi. Pieter sê dat Horg, Audi, DKW en Wanderer na Auto Union se samesmelting tog, ter wille van die geskiedenis, nie van die vier ringe ontslae geraak het nie, maar dit behou het. Van Hermanus tot Naboomspruit het die groep van die Gariepdam af begin ry na Bethuli en Fauresmith langs na Orania. Hulle het 3 heerlike dae hier geniet, want die meerderheid het Orania glad nie geken nie. Die persone wat al in Orania was het met entoesiasme die dorp aan hulle skeptiese reisgenote bemark. Dit is egter duidelik dat die nuwe besoekers nou ook ambassadeurs van die dorp sal wees. Pieter vertel van hulle positiewe ervaring van die dorpstoer en gevoelvolle besoek aan die Doornbult Konsentrasiekamp wat hoogtepunte was. “Daar is eenparig besluit dat Orania die koek vat!” In 2026 word 'n amptelike Borgwartbyeenkoms beplan en die komitee wil graag hulle aanhangers van die noordelike en suidelike dele van die land op een sentrale plek bymekaar kry. Daar is konsensus bereik dat Orania met dié handelsnaam sal kan vereenselwig. “Orania is 'n fantastiese besoekpunt. Die twee klubs, Kaapse en Noordelike klub, het ongeveer 120 Borgwarts op die pad, en byna 300 Borgwarts is landwyd op die pad. Auto Union het 219 lede en daar is digby 1 500 DKW's op die pad. Baie karre is gerestoureer nadat hulle soms as hoenderhokke gedien het. Mense krap die karre uit store en onder baie lae stof uit om te restoureer en nou is hulle weer trots terug op die pad.” Koerania gaan graag die Borgwarts in 2026 in Orania verwelkom!

DKW's brom en brul ywerig voort – foto 2
DKW's brom en brul ywerig voort – foto 3
DKW's brom en brul ywerig voort – foto 1
Voorblad van Koerania - Mei 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Mei 2025, bladsy 9

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar