← Sake

· Deur Koerania-redaksie

Diensdialoog vir kwaliteit kliëntediens

Diensdialoog word vanaf Woensdag 27 April tot Vrydag 29 April by die GVS-gebou in Orania aangebied.

Dia van Staden en Contessa Kruger
Dia van Staden en Contessa Kruger

Enige persoon wat gereeld met besoekers of hoë profiel persone oor Orania gesels sal bewus wees van die feit dat dit uiters belangrik is om feitelik korrek, sensitief en met emosionele intelligensie oor die Orania-idee en ons unieke eienskappe te kommunikeer. Behalwe vir sterk vooropgestelde opinies waarmee besoekers of media die idee wil uitdaag, is daar ook diegene wat skoorsoekvrae aan jongmense rig om hul Afrikanerskap te bevraagteken. Na verskeie versoeke om die kwaliteit van diensverskaffers, kelners, ontvangspersoneel, persoonlike assistente en enige individu wat met die publiek werk, se kliëntediens en algemene diensbaarheid te verhoog, is Diensdialoog geskep. Diensdialoog word vanaf Woensdag 27 April tot Vrydag 29 April by die GVS-gebou in Orania aangebied. Die 4uur sessies sal oor die 3 dae van 09:00 tot 13:00 aangebied word en sal onderwerpe soos persoonlikheidstipes, selfbeeld, voorkoms, kleredrag en kommunikasiestyle insluit. Die verskillende konflikstyle sal deur Dia van Staden, lewensafrigter, bespreek word en werksetiek sal ‘n deurlopende tema wees. Ditjies en datjies van sosiale gesprek en rolspeloefeninge sal bydra tot praktiese leer. Contessa Kruger van Herlaai, en Dia is kenners wanneer die onderwerp van persoonlikheidstipes in die werkplek bespreek word. Die grootste kommunikasie guru’s is dit eens dat luister ‘n belangrike rol speel wanneer kommunikasie ter sprake is. Dienslewering, sosiale etiket en toonbanktaal sal hanteer word. Telefoonetiket bly ‘n belangrike aspek wanneer afsprake gemaak word of bestellings geneem word, maar die belangrikheid daarvan word dikwels geignoreer. Dag 3 sal dienslewering van nader bekyk, aangesien Oraniërs graag vir daardie kwaliteite gekomplimenteer en erken wil word. Al die aspekte wat bespreek word het dit ten doel om toerisme in ons dorp te versterk. “Ek wil sien dat besoekers Orania verlaat met ‘n gevoel dat hulle beter diens gekry het as wat hul enigsins verwag het,” noem Paul Vogel van Bo-Karoo Opleiding. Frans de Klerk en Burger

Lambrechts, wat gereeld namens Orania met belanghebbendes oor Orania kommunikeer, verstaan die belangrikheid van kwaliteit kommunikasie, diens en ingeligte antwoorde op soms komplekse vrae. Soortgelyke vrae en antwoorde sal bespreek word. Nasionale en internasionale besoekers word gereeld in Orania verwelkom, en die verantwoordelikheid om kwaliteit diens te lewer sluit al dié bogenoemde aspekte in. Indien jy die eienaar van ‘n besigheid is waar enige skakeling met besoekers geskied, sal die kursus veral vir jou eerstekontakpersoneel van waarde wees. Tydens die kursus sal persone ingelig word oor die feite en flaters van vrae oor Orania, die versterking van kommunikasievermoë, belangrikheid van kwaliteit dienslewering plus emosionele intelligensie en praktiese oplossings vir uitdagende kliëntesituasies. Die kursusfooi sal R1 500-00 per persoon beloop, wat kursusmateriaal sal insluit. Beperkte plekke is beskikbaar en individue of personeel van instellings moet dus wikkel om te registreer.

Hier is die skakel vir jou en jou personeel se registrasie: https://bko.co.za/diensdialoog-seminaar/ Registreer jou plek deur op die bogenoemde skakel te klik of stuur ‘n e-pos na karin@bko.co.za met navrae. Skakel 053 1100620 indien jy meer inligting benodig.

Voorblad van Koerania - Maart 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Maart 2026, bladsy 5

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar
Foto by die berig: Wes-Kaap kenner kom kuier
Sake/

Wes-Kaap kenner kom kuier

Abri Ferreira, President van die Oudtshoorn Besigheidskamer, het Orania onlangs besoek en die feite rondom die hantering van B-BBEE vir kleinsake aangespreek.

Deur KoeraniaLees berig