← Kultuur

· Deur Wynvlieg Woltemade

Die Wynvlieg waai in: die vuurmeesters van die braai – Junie 2025

Dis snaaks, dis herkenbaar – en dalk, net dalk, steek jy volgende keer jou tang in jou sak.

In hierdie eerste bydrae van ons splinternuwe satiriese rubriek “Die Wynvlieg waai in,” bring Wynvlieg Woltemade 'n spottende blik op die mees gesaghebbende ritueel in Afrikanerkultuur: die braai. Dis snaaks, dis herkenbaar – en dalk, net dalk, steek jy volgende keer jou tang in jou sak. Die Groot Afrikaanse Braai-Orde Niemand weet presies hoe dit begin het nie. 'n Man met 'n pens het net eendag sonder woorde voor die vuur kom staan. Dis al. Toe het almal geweet: hy vat nou die roostersleutel... By Afrikaners is die vuur nie net warm nie- dis heilig. Dis 'n terrein van mag, identiteit, en subtiele sosiale hiërargie. Niemand word amptelik aangewys om die vuur te maak nie. Nee, jy ontvang die vuur- soos Moses die wette. Net, met kole. Dis hoekom daar altyd daardie oomblik is: 'n man met hande op sy heupe, staar stip na die rooiwarm kole, en sê dan: “Dis nog nie warm genoeg nie.” Daai woorde, vriend, is die begin van 'n braaistaatsgreep. Jy kry basies drie tipes vuurmeesters: 1. Die Dominante braaier: Vat beheer soos 'n generaal. Sê vir almal hoe hulle sout moet strooi. 2. Die Stil-Kapper: Sê niks. Braai perfek. Jou vrou vra later oor hom. Jy voel bedreig. 3. Die Teorie-braaier: Lees braairesepte op Pinterest. Braai hoendervlerkies met perskes. Word nooit weer genooi nie. En dan is daar die Groot Taboe: Wat gebeur as iemand wors draai sonder om te vra? Dis basies 'n kulturele aanval. Dis soos om op 6 April te sê dat dit beslis Jan van Riebeeck se skuld was. Nog erger: hoendervlerkies. As jy hoendervlerkies na 'n skaapbraai toe bring, moet jy verwag dat niemand ooit weer jou kinders se verjaarsdagpartytjie gaan bywoon nie. Jy sal dalk nog 'n nooi kry, maar nie respek nie. Dan's daar die geselskap om die vuur. Of "vuurpraat". Dit's nie net 'klein geselsies' nie- dis nie-politieke diskoers. “Dis nie meer soos dit was nie,” sê iemand. “Maar ons bou darem,” sê 'n ander. “Het julle daai laagvat gesien?” brul die sportvraat. Lang stilte. Dan noem iemand iets oor 'n buurvrou se giggelgroen stoep… So, die volgende keer as jy by 'n Afrikaner se vuur gaan staan, wees versigtig. Moenie sommer iets draai nie. Moenie hoendervlerkies bring nie, tensy die mense vir groente gevra het. En moenie die vuur vat nie… tensy jy gereed is om 'n volk te lei. Ek's Wynvlieg Woltemade. En ek hou jou dop.

Voorblad van Koerania - Junie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Junie 2025, bladsy 5

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar