
Soms werk mense vir 'n groot doel, maar die verwesenliking daarvan lê nog in die toekoms. Dan is dit maklik om die oog van die uiteindelike doel af te haal en op die onmiddellike te fokus. Dit is natuurlik reg, want die onmiddellike is, wel, onmiddelik en met ons. Maar mens moet nie daarin vasval nie. In hierdie geval praat ek natuurlik van die vryheidsideaal, en van Orania. Orania was nooit 'n doel op sigself nie, maar 'n groeipunt; 'n vastrapplek; 'n klein begin vir 'n eietydse, vrye Afrikanerstaat. In die storm en drang van die oorgang van 1994 het dit gelyk of so iets onderhandel kon word. Hoekom dit nie gebeur het nie, is 'n groot debatspunt. Kom ons volstaan by "gebrek aan belangstelling". Afrikaners, oor wie se vryheid dit gaan, het gevestigde belange beskerm; en die nuwe Suid-Afrikaanse owerheid wou in elk geval niks daarvan weet nie. Intussen werk Orania verder aan vryheid. Steen vir steen, neut vir neut, beeld vir beeld, toffie vir toffie. Maar soms is ons só besig met die volgende steen, neut, beeld of toffie, dat ons vryheid vergeet. Dit is die regstelling wat Jan Snyder, die toffieoom, met 'n voorlegging aan Oraniërs gemaak het. Eers het hy 'n uiteensetting gegee van die noodsaak tot vryheid. Daarby het hy die geleentheidsvenster wat tans bestaan, uitgelig. Hy het dit aangevul met die gebiedende noodsaaklikheid van ekonomiese groei. Die belangrikste was om uit te wys watter take onderskeie rolspelers op hulle behoort te neem, want hierdie is nie 'n projek vir een mens of organisasie nie. Ek het bygewoon, as verteenwoordiger van die Vryheidsfront Plus. Die noodsaaklike rol van die VF Plus, as politieke party met vryheid as bestaansrede, het hy duidelik uitgewys. Vir die VF Plus kan dit nie genoeg wees om hier iets oor regstellende aksie te sê, en daar iets oor swart ekonomiese bemagtiging nie. Die party kan nie bloot bestaan om mense se belange te beskerm, binne 'n land waar hulle buitendien polities en kultureel oorstroom word nie. Dit het hy baie duidelik uitgewys en dit is 'n boodskap waarmee ek na die party se strukture teruggaan. Nie as iets nuuts nie, maar as iets wat maklik op die agtergrond kan raak. Hy het ook na die groter gebied verwys en moontlikhede uitgewys om vennootskappe te skep, wat ons vryheidstryd kan help stry. Hierdie was vir my een van die aangenaamste en mees inhoudryke werkswinkels die afgelope tyd, soos 'n skerp beitel op vryheid afgestem. Ek vertrou dat die praat ook in aksie, selfs gewysigde aksie, of aksie met 'n hernude, helder doel voor oë, sal lei.




